Wes-Kaapse kapelane wil 1 000 komberse vir behoeftiges insamel

Dr. Kevin Williams
Dr. Kevin Williams

Wes-Kaapse kapelane wil 1 000 komberse vir behoeftiges insamel


Die publiek word aangemoedig om ‘n inisiatief te steun wat poog om 1 000 komberse teen Augustus vir minderbevoorregtes in te samel. Die inisiatief word gedryf deur die Wes-Kaapse tak van die Vereniging vir Gesertifiseerde Kapelane in Suid-Afrika.

Die vereniging se sogenaamde Vision 1000 Blankets — Winter Outreach Campaign 2026 is daarop gemik om kwesbare gemeenskappe by te staan tydens die koue wintermaande.

Dr. Kevin Williams, provinsiale uitvoerende kapelaan, sê deel van hul bemarking van die vereniging is die betrokkeneheid in onderskeie gemeenskappe.

“Ons wil die oë, ore, hande en voete wees wat ‘n verskil maak. Hierdie twee en ‘n half maande-projek vir die winter tydens Junie, Julie en Augustus, is ons mikpunt om 1 000 komberse in te samel.”

Verspreiding

Die komberse gaan in die Kaapse-metropool, asook in die Klein Karoo versprei word.

“Ons het ‘n versoek uit die Zoar-kontrei ontvang om te help met komberse. Ons gaan dit ook by skuilings in Kensington, Parow en in Bellville versprei met die hulp van VRCID (Voortrekkerweg Korridor Verbeteringsdistrik) en MES (Mould Empower Serve).”

Willams dryf tans die projek as provinsiale uitvoerende kapelaan met ander kapelane van hul organisasie om ‘n verskil te probeer maak. “So dis tweeledig — dis om ons kapelaandiens bekend te maak, nie net in die gemeenskappe wat ons dien nie, maar provinsiaal asook nasionaal. Dan wil ons die oë, ore, hande en voete wees wat wanhoop in hoop omskep.”

Hy sê hy wil deur middel van die projek ook ondernemings, individue en organisasies mobiliseer om ‘n daadwerklike verskil te maak. “Dit is ook nou die tyd waar die skuilings meer straatbewoners van die strate af verwyder, om by hulle te oornag, meer as ander tye deur die loop van die jaar,” sê Williams.

Belangstellendes kan Williams kontak by 060 917 6027 of stuur ‘n e-pos na dr.kevinwilliamsPEC@ccinsa.co.za

LEES OOK: Oud-polisiehoof van Parow nou kapelaan

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article