Radio Tygerberg 104FM en Spar Boston se Blikkies-, Sakkies- & Pakkies-veldtog verlede week was ‘n reusesukses, met meer as R40 000 se nie-bederfbare kos wat deur die gemeenskap tydens ‘n buite-uitsending op Vrydag 24 Julie ingesamel is.
Wat as ‘n droom begin het om een voertuig vol kos te maak, het in ‘n oorvloedige seën ontwikkel, sê Francois Boyce, woordvoerder.
Met voedselonsekerheid wat meer as 16% van inwoners in die Wes-Kaap raak, was die doel eenvoudig — om hoop te bring waar daar nood is, sê hy. “Ons doel was eenvoudig om net die Radio Tygerberg-bakkie propvol blikkieskos te maak, maar God het groter planne gehad. Daar was so baie skenkings dat een bakkie nie genoeg was nie en ‘n tweede voertuig ingespan moes word om al die skenkings te vervoer, sê Boyce.

Die nie-bederfbare produkte sal versprei word aan onder meer Shiloh, MES en It’s Amazing. Dit sal ook die WAVES Foundation (‘n nuwe gemeenskapsinisiatief van Radio Tygerberg) in staat stel om nog meer mense te help wat daagliks by Radio Tygerberg om ondersteuning aanklop.
“Ons is weer eens verras deur elke luisteraar, ondersteuner en vrywilliger wat hierdie projek moontlik gemaak het. Elke blikkie, pakkie en sakkie is ‘n tasbare bewys dat wanneer ‘n gemeenskap saamstaan, hoop ‘n werklikheid word,” sê Rikus van Rooy, stasiebestuurder van Radio Tygerberg.
LEES OOK: Vereniging vir Christelike Media vereer Kaapstadse Radio Tygerberg






You must be logged in to post a comment.