Die Stellenbosch Internasionale Kamermusiekfees vind vanjaar van Vrydag 3 tot Sondag 12 Julie in die Endlersaal van die Universiteit Stellenbosch se konservatorium plaas. Die fees bring reeds vir twee dekades elke Julie wêreldbekende klassieke musici van verskeie kontinente bymekaar.
‘Vier Seisoene’
Vanjaar se lys van kunstenaars sluit verskeie in wat al voorheen hier opgetree het, soos Daniel Rowland (violis) en Maja Bogdanović (tjellis) wat wêreldwyd in aanvraag is.
Rowland, wat voorheen Vivaldi se “Vier Seisoene”, Piazzolla en Max Richter uitgevoer het, sal dié keer Philip Glass se weergawe van die “Vier Seisoene” uitvoer wat nog nooit voorheen plaaslik gehoor is nie. Rowland en Bogdanović sal ook saam met Nina Schumann, die fees se kunsdirekteur, “Space Jump” van Fazil Say, uitvoer.


Debuut
Die violis Miclen LaiPang het onlangs as solis saam met die Kaapstadse Filharmoniese Orkes en by die Franschhoek-kamermusiekfees plaaslike gehore gaande gehad. Hy maak sy debuut by die fees met werke van Cesar Franck, Jörg Widmann en Glière. Op die laaste dag van die fees sluit Emanuil Ivanov by LaiPang aan vir Mendelssohn se energieke concerto vir viool en klavier.

Ander tjelliste wat vanjaar gaan optree sluit Peter Martens (feesdirekteur), Boris Andrianov en David Cohen in. Andrianov en Cohen is lank reeds gunstelinge by die fees. Andrianov tree op 9 Julie as solis op, terwyl Cohen die treffende tjello concerto van Schnittke op 10 Julie saam met die fees-simfonieorkes sal uitvoer.
Blaasinstrumente
Onder die houtblasers wat vanjaar hul feesdebuut maak, is Titus Underwood, hoof-hobospeler van die Nashville-simfonieorkes en ontvanger van die 2021 Sphinx Medal of Excellence, en Julia Harguindy, hoof-fagotspeler van die Pittsburgh-simfonieorkes. Demarre McGill (fluitspeler) keer ná ‘n aantal jare terug na die fees. Die sublieme klarinetspel van YaoGuang Zhai word weer gehoor in werke van, onder andere, Mozart, Amanda Harberg en Ante Grgin.
Die koperblasers José Gutiérrez (Franse horing), Marco Silva (trompet) en Mark Hampson (bastromboon) maak ook hul terugkeer. Hulle speel almal saam in Gareth Wood se “Tientos y Danzas”, met Jauvon Gilliam op perkussie.
Ensemble
Met die bekendstelling van ’n nuwe ensemble, die Fees-simfonieseblaasorkes, sal die gehoor Liam Burden sien optree as saxofoonspeler én as dirigent. Terwyl die Grammy-bekroonde dirigent Michael Repper weer op die podium sal wees met die Fees-simfonieorkes, sal Kärin Hendrickson die Fees-konsertorkes dirigeer. Hendrickson het al van die wêreld se voorste orkeste gedirigeer, waaronder die Londen-simfonieorkes, die Belgiese Nasionale-simfonieorkes, die Pittsburgh-simfonieorkes en die BBC se vlagskip ensembles.
Besoek www.sicmf.co.za vir meer inligting en kaartjies.
LEES OOK: Spier’s ‘Routes of Sound’ lines up 40 musicians across three winter weekends




You must be logged in to post a comment.