Jong klassieke musici tussen 14 en 19 jaar kan nou vir vanjaar se gesogte Nasionale Jeugmusiekkompetisie (NJMK) registreer.
Die 42ste weergawe van die gesaghebbende kompetisie vind van 30 November tot 5 Desember in die Endlersaal van die Universiteit Stellenbosch se konservatorium plaas.
Prysgeld
‘n Maksimum van 25 instrumentaliste sal gekies word om in die kompetisie te speel. Benewens ‘n deel van die algehele prysgeld van R180 000, sal deelnemers om die gesogte goue, silwer- en bronsmedaljes meeding.
Die deelnemers sal in vyf kategorieë vir orkesinstrumente meeding – klavier, strykinstrumente, houtblaasinstrumente, koperblaasinstrumente en ander orkesinstrumente soos harp, perkussie, marimba en xilofoon.
Oor die vyf dae van die kompetisie moet die gekose suksesvolle kandidate ‘n wye repertoire van hul keuse uitvoer, wat verskillende stylperiodes en Suid-Afrikaanse komposisies dek.
Galakonsert
Al die deelnemers sal in die eerste twee rondes speel. Daarna sal 12 semi-finaliste in die derde ronde (halfeindronde) meeding om te bepaal wie die top-ses musici is.
Die ses finaliste spook dan op 5 Desember sake in ‘n galakonsert saam met die Kaapstadse Filharmoniese Orkes (KFO) uit.

“Dié kompetisie is al beskryf as een van die mees uitmergelende Suid-Afrikaanse musiekkompetisies. Dit bied ‘n platform vir jong talentvolle musici, aangesien die kompetisie daarop gemik is om tienersterre te identifiseer, bloot te stel en te ontwikkel,” sê Aileen Maas, koördineerder van die NJMK.
LEES OOK: Passion ChoralFest at Hugo Lambrechts
“Dit is die enigste Suid-Afrikaanse kompetisie waarin die finaliste hul laaste stryd voer, met begeleiding deur die KFO,” sê Maas.
Inskrywings sluit op Dinsdag 23 Junie.
Besoek www.nymc.co.za vir meer inligting en die kompetisiereëls.





You must be logged in to post a comment.