Die Endler-konsertreeks keer terug vir sy tweede seisoen van Julie tot Desember met ‘n verskeidenheid van kamermusiek, koorkonserte, orkesuitvoerings, jazz, musiekkompetisies en besoekende kunstenaars. Die opvoerings vind plaas in die Endler- en Fismersaal van die Universiteit Stellenbosch (US) se konservatorium.
Fantasie
Die seisoen open op Vrydag 24 Julie om 19:00 met Journey of the Soul, met Féroll-Jon Davids op klarinet, Rosamund Roth op tjello en Nina Schumann op klavier. Die konsert wentel rondom musikale storievertelling — versterk deur geheimsinnige elemente van fantasie — vir klarinet, tjello en klavier.


Die gehoor word genooi om diep in hul verbeelding te delf, terwyl die ensemble ‘n verskeidenheid gemoedstemmings, natuurtonele, karakters en ‘n spektrum van emosies oordra.
Met ‘n uiteenlopende reeks style wat die tema van fantasie ondersteun, neem hierdie uitvoering luisteraars op ‘n sielsreis: van dromerige introspeksie tot ritmiese lewenskrag, melancholiese lirieke tot dramatiese tekstuurkontraste en harmonieë wat aan ons gedeelde menslikheid herinner.
Kamerkoor
Op Vrydag 31 Julie bied die Universiteit Stellenbosch se kamerkoor Voices Without Borders aan — ‘n galakonsert onder leiding van Lunathi Ncamani en Martin Berger. Die program vier die vermoë van koormusiek om kulture, tale en generasies met mekaar te verbind en beweeg van die ryk oevre van Suid-Afrikaanse koormusiek tot inspirerende internasionale werke.
Augustus
Hoogtepunte in Augustus sluit Piano² in, die jaarlikse klavieruitruil tussen die US en die Universiteit van Kaapstad, op Woensdag 12 Augustus om 19:00 in die Fismersaal. Ná meer as twee dekades se samewerking tussen die twee universiteite se klavierafdelings vier vanjaar se program duette.
Op Vrydag 14 Augustus keer die US-koor, onder leiding van André van der Merwe, terug na die Endler-verhoog met ‘n program van uitsonderlike koormusiek. Die gehoor kan uitsien na werke soos “Sicut Anima Mea”, “Laat die wind my neem”, “Ndikuthandile” en “Oxamu”, wat die koor se veelsydigheid, tegniese briljantheid en diepte ten toon stel.
Op Vrydag 21 Augustus verken die pianis José Dias die werke van Frédéric Chopin in The Chopin Project II: Complete Chamber Music. Suzanne Martens op viool en Peter Martens op tjello is saam met Dias op die verhoog.
September
Hoogtepunte in September sluit die US-simfonieorkes se optrede op Vrydag 4 September, onder leiding van Rik Ghesquière met die soliste Luc Ponet en Mario Nell op orrel in; en die Endler Prestige-konsert To Moer and Gone: Tales from Here, There and Everywhere op Vrydag 18 September, met die NorthSouth Duo, Josie McClure op saksofoon en Kaat Vanhaverbeke op trekklavier.
Kyk ook uit vir die US Nasionale Ensemblekompetisie en die Stellenbosch-jeugorkes se galakonsert op Saterdag 19 September. Van Dinsdag 22 September vind die gesogte Hubert van der Spuy Nasionale Musiekkompetisie plaas, wat afsluit met die galakonsert en finaal op Saterdag 26 September om 15:00.
Kaartjies is by Webtickets beskikbaar.
LEES OOK: Cape Town City Ballet brings Swan Lake highlights to Stellenbosch





You must be logged in to post a comment.