Inwoners van die Buh-Rein-landgoed se aftreeoord in Kraaifontein het onlangs Nasionale Tuindag in styl gevier met ‘n kleurvolle geleentheid vir die hele gemeenskap.
Tuindag, wat jaarliks in Oktober gevier word, moedig mense aan om hul tuine te geniet en te waardeer. Die oord se asemrowende tuine met sy sowat 100 roosbome in kenmerkende Italiaanse styl uitgelê, was die perfekte agtergrond vir die feesvieringe.
Inwoners en besoekers het vroegoggend al in die tuine bymekaargekom, spoggerig getooi in kleurvolle hoede en blommekranse.

Benewens die natuurskoon was daar ‘n groot verskeidenheid stalletjies wat deur inwoners en besoekers geniet is en musiek het die dag opgevrolik. Boerewors het op die kole gebraai, en daar was geen tekort aan smullekker tuisgemaakte lekkernye nie.
LEES OOK: Voormalige Wes-Kaapse polisiekommissaris Lennit Max stel sy outobiografie bekend
Vir diegene wat op soek was na iets besonders vir hul eie huis of tuin was daar ‘n verskeidenheid plante en kuns- en handwerk. Unieke, handgemaakte artikels en kunswerke wat deur die inwoners self met groot sorg en talent geskep is.
Ondersteuning vir die tuinklub
Dit is die derde jaar dat die oord se “groen-vingers”-tuinklub die geleentheid aanbied om hul tuine te vier asook om geld in te samel om die oord se blom- en groentetuine uit te brei en te versorg.
Hendrina Rossouw, voorsitter van die Groen Komitee wat die mooi tuine aangeplant het en in stand hou, sê die tuin is vyf jaar gelede uit niks begin en spog nou met roostuine, clivia-beddings, ‘n verskeidenheid ander blomme, sitrusbome en nog meer.

“Die inspirasie agter die tuine was om skoonheid te skep wat almal kan geniet,” sê sy, “en ons hou tuindag om inwoners van die oord meer betrokke te maak.”
“Die dag was ‘n reuse-sukses,” sê Rossouw. “Daar was ‘n baie goeie opkoms met baie besoekers wat die oord ondersteun het, wat gelei het tot goeie verkope by al die stalletjies.
Sy het bygevoeg dat die geleentheid bowenal gesorg het vir ‘n fantastiese gees van samesyn en gemeenskapsbou onder die inwoners.
Tuindag nou ‘n tradisie
Nasionale Tuindag is ‘n jaarlikse tradisie wat mense aanmoedig om vir een dag hul tuingereedskap neer te sit en bloot die vrugte van hul arbeid te geniet.
Pleks van spit, natlei of onkruid uittrek, word Suid-Afrikaners gevra om fees te vier saam met vriende, familie en bure. Die tradisie is om op hierdie dag spoggerige blomkrone te dra en saam te kuier met ‘n piekniek, braai of tee in die tuin – of dit nou ‘n groot grasperk, ‘n gemeenskapstuin of net ‘n paar potplante op ‘n balkon is.
Die tema vir vanjaar se Tuindag was “From Garden to Table: Grow, Gather, Celebrate”.




