Sy sit die ‘Eden’ in Eden Park: Tannie Marie se 100ste verjaarsdag gevier

Tannie Marie Bester vier 100.
Attie Loots en tannie Marie Bester, wat Vrydag 15 Mei haar 100ste verjaarsdag gevier het.

‘n Spesiale “eeufees” is Vrydag by die Eden Park-aftreeoord in Kuilsrivier gevier.

Inwoners, personeel en ‘n paar familielede het saam met tannie Marie Bester kom koek-en-tee om haar 100ste verjaarsdag te herdenk.

Tannie Marie woon reeds sedert 1998 daar en oor die laaste 28 jaar het sy as te ware die “Eden” in Eden Park help sit.

Al het die wêreld sedert haar grootwordjare in die Paarl drasties verander, het haar liefde vir tuinmaak konstant gebly.

Liefde vir tuinmaak

Tot onlangs het tannie Marie nog in ‘n huisie by die oord gewoon. Nadat sy ‘n paar keer geval het, moes sy twee maande gelede na die versorgingseenheid skuif.

In haar verwelkoming het Attie Loots, wat die viering help reël het, gesê tannie Marie was die eerste inwoner in die oord se siersteenhuisies. “Sy het ingespring en tuingemaak, soos sy maar altyd gemaak het. Haar tuin bestaan steeds. As jy haar gesien het, dan het sy ‘n gieter, ‘n graaf of vurk in die hand gehad.”

Ds. Emile Blommaert, haar vorige buurman, het haar ook in die tuin leer ken. “Dit is waar ek haar die eerste keer gesien het, hard besig – nie net in haar tuin nie, maar die bure s’n ook”, het hy geskerts. “Ek sê toe vir haar, sy is besig om die Here se heel eerste opdrag uit te voer, dit is: Die Here het die mens in die tuin geplaas om dit te bewerk en te bewaar.”

Blommaert het gesê hulle mis haar by die huis, maar sy is nou waar sy versorg kan word.

Aangepas

Tannie Marie het gesien hoe die huisies gebou word waar sy eerste ingetrek, en 28 jaar onafhanklik gebly het, het Barbara Dupuy, bestuurder van Eden Park, vertel. Die meeste inwoners ken haar deur haar liefde vir die tuin.

“Vir amper drie dekades was sy elke dag in die tuin besig.”

Dupuy het gesê sy het hoë agting vir tuiniers, want tuinmaak leer mense geduld, veerkragtigheid, hoop en hoe om te versorg.

Sy het net lof gehad vir hoe tannie Marie aangepas het nadat sy uit haar huis moes trek. “So ‘n oorgang is nooit maklik nie, veral nie na soveel jare se onafhanklikheid, ‘n bekende omgewing en roetine, nie. Maar sy het dit gedoen met grasie en ‘n stille krag.”

“Ons vier nie net 100 jaar nie, maar die lewe wat sy gehad het in daardie 100 jaar — gewortel in deursettingsvermoë, omgee, onafhanklikheid en gemeenskap,” het Dupuy gesê.

LEES OOK: Seniors get a taste of life in the fast lane

Familie

Marita Viljoen van Brackenfell, ‘n susterskind, het vertel tannie Marie is in die Paarl gebore en daar getroud. “Toe sy jonk was het sy, my ma en nog ‘n suster, al drie ‘n rukkie in ‘n klerewinkel in die Paarl gewerk. Dit was gelukkige dae. Na haar troue het sy ophou werk.”

Haar man, Jacobus (Kosie) Bester het op die spoorweg gewerk. Hy is Worcester toe verplaas, waar hulle sowat 10 jaar lank gewoon het. Met sy dood “so 30 jaar gelede” het sy Kaap toe gekom, waar sy by ‘n familielid gewoon het voordat sy in Oktober 1998 by Eden Park ingetrek het.

“Sy het ook ‘n seun gehad, André, maar hy is op 15 oorlede. Hy het ‘n hartkwaal gehad.” Viljoen het ook vertel tannie Marie het kanker gehad toe sy in “haar twintigs” was. “Sy is daardeur en tot vandag, op 100, kankervry.”

Maureen Flint (broerskind) van Brackenfell, wat hul familiegeskiedenis in ‘n boek saamgestel het, het gesê tannie Marie (gebore Byleveld) is een van ses kinders. Sy is die langslewende nadat haar jongste suster in September verlede jaar oorlede is.

Familielede
Famielede van tannie Marie Bester (voor) is van links: Maureen Flint (broerskind), Esmeralda Viljoen (susterskind se dogter), Marita Viljoen en Trudie van Jaarsveld (susterskinders), Henry Viljoen en Del Flint (eggenote van familielede).

Haar familie ken haar ook vir haar liefde vir tuinmaak. Viljoen onthou dat haar tamaties hoër gegroei het as kophoogte en dat sy self met die skêr sou inspring om seker te maak die gras se rante is netjies gesny.

“As die ouens die gras klaar gesny het, dan sou sy agterna gaan en vir hulle vra: ‘Nou wat van die beddings? Weet julle nie hoe werk ‘n graaf nie?’” het Flint gesê.

Die gees is steeds gewillig

Tydens waterbeperkings was sy soms in die moeilikheid, want die plantjies moes water kry.

Met die trek siekeboeg toe het haar familie seker gemaak van haar plante kom saam. “Sy het vreeslik baie potplante gehad. Toe sy uittrek uit haar huisie, toe het ons van die potplante by haar venster gesit en ander tussen mense verdeel.”

TygerBurger kon net so kortliks met tannie Marie gesels. Sy het bevestig dat sy nog tot “op laaste” tuingemaak het.

“Ek kon met ‘n graaf werk, grassny; daar was nie ‘n ding wat ek nie (in die tuin) gedoen het nie.”

Sy het vertel dat sy in standerd sewe uit die skool gehaal is omdat sy haar ma moes oppas. “Sy was ‘n invalide; ek moes haar oppas. Ek het haar baie jare opgepas; eintlik my hele jong lewe.”

Sy het geglo aan besig bly, maar met die ouderdom kom die kwale, het sy toegegee. “Ek het een nag geval daar in my huis en toe my hand seergemaak.” Sy besef dat sy nou nie meer in die tuin kan werk nie en hulp benodig, maar “ek kan aangaan”. Met die groetslag laat hoor sy: “Ek wil nog altyd werk,” en voeg dan by dat haar verjaarsdagviering aangenaam was.

LEES OOK: DK-hamergooi-akademie se twee meestersatlete gooi die jare oorboord

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article