Van uitstel kom afstel, lui die gesegde. Maar dit hoef nie so te wees nie, bewys Caitlin Leigh Sampson, ‘n jong ma wat in Kuilsrivier grootgeword het en vandeesweek (Dinsdag 24 Maart) haar meestersgraad in dierewetenskap cum laude aan die Universiteit Stellenbosch ontvang het.
Sampson se akademiese reis is nie net deur verlies gekenmerk nie, maar ook deur haar uithouvermoë. Ondanks beduidende fisieke en emosionele uitdagings tydens haar studies het sy Dinsdag haar meestersgraad ontvang, net drie weke ná die geboorte van haar tweede kind.
‘n Droom word gebore
Dié oud-leerder van Kuils River Primary School en die Hoërskool De Kuilen het op skool daarvan gedroom om ‘n veearts te word. Hoewel sy by die Universiteit van Pretoria aanvaar is, kon sy weens finansiële beperkings nie die geleentheid aangryp nie.

Tydens haar noodgedwonge oorbruggingsjaar ontdek sy dat die US deur dierewetenskap ‘n toegangsroete bied om met diere te kan werk. “Dit was in daardie stadium teleurstellend, maar agterna kon ek sien hoe dit my presies gelei het na waar ek moes wees,” sê sy.
Haar liefde vir diere is van kleins af deur haar ouma gekoester, terwyl haar akademiese ambisie deur haar oudste suster – die eerste in haar gesin wat ‘n meestersgraad behaal het – geïnspireer is. “Sy het my gewys wat moontlik is,” sê Sampson. “Haar krag en vasberadenheid het my nog altyd gemotiveer om aan te hou om vorentoe te beur.”
LEES OOK: Kuilsrivier se Kayla maak droom-debuut
Teëspoed
Sampson se eie nagraadse reis was egter alles behalwe eenvoudig.
Weens vertragings om toegang tot diere vir haar navorsingsproewe te kry in die finale jaar van haar meestersgraad, moes sy noodgedwonge om uitstel vra. Vroeg in 2025 het haar situasie ‘n verwoestende wending geneem. Sy was op pad na Oudtshoorn waar sy op ‘n volstruisplaas gewoon het om navorsing te doen toe ‘n koedoe voor haar motor ingehardloop en ‘n ernstige ongeluk veroorsaak het.
Sy het onder meer ernstige handbeserings in die ongeluk opgedoen. “Eenvoudige take soos om ‘n bottel oop te maak, knope vas te maak of om te tik was uiters moeilik,” sê sy. Aangesien sy weens haar beserings nie op haar eie kon bly nie, het sy teruggekeer huis toe in Kaapstad en vir ‘n tweede keer uitstel gevra.
Uithou te midde van verlies
Terwyl sy mediese toetse ondergaan het om die omvang van die skade aan haar hande te bepaal, het Sampson ontdek sy is swanger. Mediese prosedures moes uitgestel word, wat die onsekerheid net vererger het.
Gedurende haar swangerskap het sy ook diep persoonlike verlies ervaar. Eers is haar geliefde hond van 16 jaar dood, en kort daarna haar ouma, wat so ‘n deurslaggewende rol in die vorming van haar liefde vir diere gespeel het
Te midde hiervan is haar eerste kind gebore. Net twee maande later het sy uitgevind sy is weer swanger.
Teen alle verwagting
“As ek terugkyk, het dit regtig gevoel asof elke moontlike hindernis op my pad geplaas is terwyl ek probeer het om hierdie graad te voltooi,” sê sy. Tog het sy vasberade gebly. “Ek was vasbeslote om klaar te maak waarmee ek begin het.”
As ‘n bewys van haar deursettingsvermoë was Sampson 39 weke en vier dae swanger toe sy haar tesis voltooi en verdedig het om cum laude te slaag. Sy het op 5 Maart haar tweede baba in die wêreld gebring.
Boodskap van hoop
Sy hoop om ‘n boodskap van veerkragtigheid aan haar kinders oor te dra. “Die lewe sal swaarkry en uitdagings bring, maar wanneer God die grondslag bly, word jy versterk om bo elke hindernis uit te styg en die drome na te jaag wat vir jou bedoel is.”
LEES OOK: Mnr Doof SA-finalis van Kuilsrivier wil ander inspireer
Met die oog op die toekoms beplan Sampson om haar navorsing by wetenskaplike konferensies aan te bied en haar bevindings te publiseer, terwyl sy die komende jaar aan haar gesin wy. “Hierdie tyd sal my toelaat om te rus en te herstel, en om ‘n jaar van onskatbare waarde saam met my kinders deur te bring voordat ek my professionele loopbaan aanpak,” sê sy.
“Ek hoop regtig my storie moedig iemand anders aan om ook aan te hou.”






You must be logged in to post a comment.