Middel agter is Ansie van Molendorff saam met die vroue van Goliath Estate.
Middel agter is Ansie van Molendorff saam met die vroue van Goliath Estate.

Speelse lesse bou sterk fondasie in Kraaifontein-gemeenskap


Nasionale vroueorganisasie, Die Dameskring het agt versorgers van voorskoolse kinders uit die plakkerskamp Goliath Estate in Kraaifontein opgelei in die organisasie se Waardeprojek, wat daarop gemik is om basiese lewenswaardes op `n speelse wyse aan jong kinders wat in moeilike omstandighede groot word oor te dra.

Dié opleidingsessie, spesifiek gerig om vroue wat met jong kinders werk, het onlang by die Logos Gemeente in Brackenfell plaasgevind. Dit vorm deel van `n groter inisiatief om basiese waardes in minderbevoorregte gemeenskappe te vestig.

Die doel van die projek is om versorgers toe te rus met praktiese metodes om ses kernwaardes – naamlik omgee, respek, eerlikheid, gehoorsaamheid, diensbaarheid en geloof – op `n speelse en verstaanbare wyse aan voorskoolse kinders te leer.

Van jongs af opstandig

Volgens Ria Breed van Charitas `n nie-winsgewende organisasie wat werk doen in die verarmde gemeenskap is daar tans sowat 350 inwoners in die plakkerskamp waarvan 120 kinders.

Die klein gemeenskap gevestig op die ou gronde van die Morawiese Kerk in die hartjie van Kraaifontein staar tans groot uitdagings in die gesig.

LEES OOK: Transport project brings Kraaifontein children back to school

“Die behuising is swak en net 40% van inwoners beskik oor elektrisiteit, terwyl water slegs by krane beskikbaar is. Daarbenewens is werkloosheid aan die orde van die dag,” sê Breed. Sosio-ekonomiese omstandighede lei tot swak verhoudings tussen ouers en kinders, waar kinders van jongs af opstandig is.

“Die kinders is gereeld betrokke by bakleiery met ander skoolkinders, en het geleer dat dit aanvaarbaar is om te jok,” sê Breed. “Die organisasie het tans twee voorskoolse speelgroepe waar ons kinders deur spel en aktiwiteite waardes wil aanleer. Ons het laerskoolaktiwiteite een keer per maand en stel hulle ook bloot aan goeie waardes, asook ons nasorgprogramme met laerskoolkinders,” sê Breed.

Langtermyndoel

Die Dameskring is `n nasionale Afrikaanse vroueorganisasie wat daarop gemik is om vroue landswyd te bemagtig deur middel van verskillende ontwikkelingsprogramme en gemeenskapsinisiatiewe.

Volgens Ansie van Molendorff, uitvoerende bestuurslid van Die Dameskring in die Wes-Kaap, is die organisasie se langtermyndoel om die Waardeprojek na nog voorskoolse sentrums uit te brei.

“Ons glo dat die vestiging van goeie waardes reeds op `n jong ouderdom `n groot verskil in kinder se lewens kan maak,” het Van Molendorff gesê.

Die organisasie se waardeprojek vorm deel van `n breër strategie om volhoubare impak in gemeenskappe te maak deur op jong kinders te fokus wat in uitdagende omstandighede grootword.

“Navorsing bewys dat gelukkige mense verreweg onder meer gesonder is, minder hartsiektes opdoen, langer leef, beter verhoudings het, suksesvoller is, minder geneig is tot depressiwiteit en `n positiewe invloed op ander uitoefen,” Dr Pieter van Jaarsveld, skrywer van die boek `n Gelukkige kind. “Kinders vestig reeds neutrale netwerke in hul brein in die eerste sewe jaar van hul lewe en dit bly vir altyd daar.”

Hierdie woorde omskryf Die Dameskring-droom vir Suid-Afrika se kinders. Die Waardeprojek het ten doel om gesagsfigure toe te rus om dié “neutrale netwerk” in die kinderbrein te bevorder.

“Ons droom is om deur middel van hierdie projek gesinne in ons land beter toe te rus om te kan bydra tot `n beter toekoms vir ons kinders.”

Belangstellendes wat graag die opleiding wil ontvang of meer oor die projek wil uitvind, kan Ansie van Molendorff kontak by 082 927 5208.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article