Die Omgeenetwerk, ‘n vrywilliger-organisasie in Brackenfell, werk onvermoeid om ortopediese toerusting in te samel en gratis uit te leen aan behoeftige bejaardes in die gemeenskap. Die organisasie lewer ‘n kritieke diens aan diegene wat dit die meeste nodig het.
“Ons het vanjaar al baie toerusting uitgeleen, veral aan bejaardes wat vir hul kinders in die Kaap kom kuier en nie die toerusting kan saamkarwei nie; of bejaardes wat die hospitaal besoek. Daar is ook ‘n groot behoefte onder bejaardes in die dorp wat nie die toerusting kan bekostig nie,” verduidelik André le Roux van die netwerk.
Die organisasie se huidige voorraad sluit ses rolstoele, drie draagbare toilette, verskeie looprame en heelwat krukke in – almal gereed om uitgeleen te word aan diegene wat dit benodig.
Groeiende aanvraag
Die vraag na sekere hulpmiddels oorskry egter die aanbod. “Ons kry veral baie versoeke vir looprame met vier wiele en het dus ‘n behoefte daaraan en beplan om vanjaar ‘n paar aan te koop,” sê Le Roux. Die groep se diens strek verder as net mobiliteitstoerustng. Onlangs het hy ook doeke aan ‘n kankerpasiënt verskaf.
Beroep op gemeenskap
Die Omgeenetwerk doen ‘n dringende beroep op inwoners om skenkings van ortopediese toerusting wat nie meer in gebruik is nie. “Sulke skenkings kan ‘n enorme verskil maak in die lewe van bejaardes wat sukkel om toegang tot hierdie noodsaaklike hulpmiddels te kry,” sê Le Roux.
LEES OOK: Speelse lesse bou sterk fondasie in Kraaifontein-gemeenskap
Die netwerk het gereelde projekte om bejaardes te ondersteun, en het hierdie jaar al sowat 500 geskenkpakkies uitgedeel aan bejaardes in tehuise in Brackenfell, Kraaifontein en Kuilsrivier.”Ons kuier ook by die bejaardes en trakteer hulle soms met lekker smulhappies en doen die dames se naels,” verduidelik Le Roux.
Diegene wat toerusting wil skenk of meer inligting oor die Omgeenetwerk se dienste wil bekom, kan Le Roux by 082 449 1071 bel.





