Vyftig jaar ná hul matriekjaar in 1976 het ‘n groep oud-leerders van die Hoërskool Tygerberg onlangs by die oorspronklike skoolgebou — geleë in McIntyreweg, Parow — vir hul reünie byeengekom.
Altesame 54 van die oorspronklike 174 matrieks destyds het die 50ste matriekreünie bygewoon. Sommige van hulle het van ver gereis om hier te wees, sê Mari Watson, woordvoerder, onder meer van Oudtshoorn in die Klein-Karoo, Wildernis en George in die Suid-Kaap, en Napier en Kaap Agulhas in die Overberg.
Organiseerders
Die reünie is gereël deur twee oud-leerders, Johan Visser, die hoofseun in 1976, en Riël von Molendorff. Die twee het reeds in Februarie vanjaar die idee gekry om die reünie by die oorspronklike skoolgebou te hou, sê Watson.
Die oorspronklike skoolgebou is in ‘n stadium in twee verdeel en huisves vandag die Tygerberg-kunssentrum en die kantore van die Metro-Noord-onderwysdistrik. Visser en Von Molendorff het dié kantore gaan besoek om toestemming vir die reünie te kry, wat aan hulle gegun is, sê Watson.

Funksie
Die geleentheid is op Saterdag 10 Oktober gehou.
“Net ná 10:00 is ons deur twee gidse begelei terwyl ons deur die skool geloop het. Daar is baie gelag en gesels en orals foto’s voor klaskamerdeure geneem. Van die staaltjies was oor stout wees en pakslae kry, oor klasbankery en skelm rook, asook goed wat in die klaskamers gebeur het,” sê Watson.
Sy sê daar is ook ‘n oomblik van stilte gehandhaaf vir 33 oorlede oud-klasmaats met hul terugkeer na die lokaal by die kunssentrum. “Kerse is ter viering van hul lewe aangesteek.”
Nadat ‘n heerlike bord kos geniet is, is daar nog lank saam gekuier, gelag en soms selfs gehuil, sê Watson, en voeg by dat nuwe vriendskapsbande gesmee is en baie mooi herinneringe ná die geleenheid sal voortleef.
LEES OOK: Bettie Nel nou voltyds Hoërskool Tygerberg se skoolhoof




You must be logged in to post a comment.