Die Primêre Skool Attie van Wyk langs Adderleyweg buite Durbanville het onlangs sy 50ste bestaansjaar met onder meer ‘n gospelkonsert en erediens gevier.
Die skool is in 1976 deur ds. Attie van Wyk van die destydse VGK Morningstar vir die kinders van plaaswerkers begin nadat die gebrek aan skole onder sy aandag gekom het. Plase was ver van mekaar geleë en vervoer gebrekkig.

Sy en haar eggenote het deur ds. Van Wyk betrokke geraak, het die 97-jarige Hester Jacobs, tweede skoolhoof, oor die skool se geskiedenis by die gedenkdiens gesê. Fondsinsamelings is gehou met die verkope van Kersboompies deur die Round Table Durbanville.
Ondersteun deur omringende plase
Die vorige inwoners van Riverlands het Hendrik Groepies gekry om die bouery aan te pak en verskeie plase, onder meer Klein Phisantekraal, Diemersdal, Loch Lynne, Vrymansfontein, Rondebossieberg en Spes Bona het die projek ondersteun, het Jacobs gesê.
Die skool is op 22 Mei 1976 amptelik deur Gene Louw, destydse administrateur van Wes-Kaapland, geopen.
“Ons het gesukkel — baie kere, maar ons is vandag veral trots op die lewenslesse wat ons kon gee en nalaat,” het Jacobs gesê.
“My wens is ook dat hulle wat ‘n gedeelte van, of hul hele opvoeding, by ons gekry het, daarop sal voortbou. Ons het saam hard gewerk en ons kinders presteer. Aan God al die eer,” het sy gesê.
Personeelkamer
Die skool het in 2025 vir die heel eerste keer ‘n geboude personeelkamer gekry. “Ons hoop en bid om ook in die toekoms ons eie sportveld en saal te kry. Ons hoop dat dit nie ook eers oor 50 jaar sal gebeur nie; ons glo en vertrou dat dit iets is wat binnekort sal realiseer as ons die nodige hulp sal kry,” het Wynanda Botes-Fikster, waarnemende skoolhoof, gesê.

“Ons bring vandag spesiaal hulde aan die vorige hoofde van ons skool; u het die pad voor ons oopgetrap. Dankie vir die visie waarmee u gelei het, vir die moed om besluite te neem in moeilike tye, en vir die geloof waarmee u elke dag aangepak het. U het nie net ’n skool bestuur nie, maar u het ’n nalatenskap gebou.
“U het die fondament gelê waarop ons vandag bou — ’n fondament van waardes, dissipline, omgee en uitnemendheid.
“Baie van die dinge wat ons vandag as vanselfsprekend aanvaar — die kultuur van ons skool, die trots wat ons dra, en die rigting waarin ons beweeg, is die vrug van u harde werk en deursettingsvermoë,” het Botes-Fikster gesê.
Leerders het uitgestyg
“Ons kan met trots sê dat hierdie klein skooltjie soveel leerders gehad het oor die jare wat uitgestyg het — van onderwysers, sakesmanne en vroue en selfs Angelo Davids, rugbyspeler vir die Leeus, wat by Attie van Wyk begin en later by ons buurskool Klipheuwel Primêre Skool aangesluit het.
“Ons spog ook met Granville Fredericks, wat in 2020 in gr. 7 by ons skool was. Hy het vanjaar Suid-Afrika in die o.19 100m en 200m gaan verteenwoordig. Ons wens hom net die beste toe,” het sy gesê.
“Ons het gegroei van drie onderwysers in die vroeër jare en vyf personeellede na 18 personeellede, wat onderwysers en ander personeellede insluit.
“Soos die jare aangestap het, was dit ook nie meer nodig vir ons leerders om skool toe te stap nie, want ‘n paar jaar gelede het ons goedkeuring van die onderwysdepartement ontvang vir busroetes. God was vir ons goed.
“Vir ons jonger onderwysers en leiers beteken hierdie fondament alles. Dit gee vir ons vaste grond om op te staan, ’n voorbeeld om na te volg, en die moed om verder te bou. U het die deur oopgemaak, en vandag stap ons met dankbaarheid daardeur,” het Botes-Fikster gesê.

Sy het ook die borge bedank — “onder meer die Louw-familie, op wie se grond ons skool is, Diemersdal-wynplaas vir hul ondersteuning, die NG kerke Durbanville-Bergsig en Durbanville, Clara Cares van die Clara Annafontein-gemeenskap, Faircape, Lulenco Plant Hire, asook ons Duitse vriende vir hul jaarlikse bydrae en almal wat oor die jare vir Attie van Wyk Primêr ondersteun het”.
Volharding, toewyding, opoffering en geloof
Albert Baatjies, wat vroeër vanjaar as skoolhoof afgetree het, het gesê die skool se mylpaal gaan oor meer as net jare wat verbygegaan het.
“Dit vertel ’n verhaal van volharding, toewyding, opoffering en geloof. Maar bowenal vertel dit ’n verhaal van mense. Skole is nie bloot geboue van bakstene en sement nie. Skole word deur mense gebou — mense wat onderrig gee, ondersteun, aanmoedig en glo in die krag van onderwys om lewens te verander.
“Gedurende my jare by hierdie skool het ek iets beleef wat Attie van Wyk Primêre Skool werklik uniek maak — sy familie-atmosfeer. Daar was ’n gees van spanwerk, samewerking en opregte omgee vir mekaar. As skoolhoof het ek nooit die pad alleen geloop nie. Ek was geseën met onderwysers en personeel wat hul ondersteuning, hul toewyding en hul samewerking gegee het — dikwels ver meer as wat van hulle verwag is. Daarvoor bly ek innig dankbaar,” het hy gesê.
ALSO READ: Rotary clubs unite to feed many learners






You must be logged in to post a comment.