“Jy gaan nooit kwaad vir mekaar slaap nie” — Kallie en Sarie se 75 jaar van liefde

Kallie (98) en Sarie (94) van Wyk is vanjaar 75 jaar getroud.
Kallie (98) en Sarie (94) van Wyk is vanjaar 75 jaar getroud.

“Jy gaan nooit kwaad vir mekaar slaap nie” — Kallie en Sarie se 75 jaar van liefde


Dit is al baie gesê, maar dit wíl gesê word as ‘n paartjie wat al meer as sewe dekades bymekaar is vir jou sê daar is een groot geheim tot ‘n suksesvolle huwelik, en dit is, “Jy gaan nooit kwaad vir mekaar slaap nie. “Praat ‘n ding uit en maak vrede met mekaar. Teen die oggend het jy al daarvan vergeet.”

‘n Week voor hul 75ste huweliks­herdenking op 7 Julie praat Kallie (98) en Sarie van Wyk (94) met TygerBurger oor die huwelik, vanuit hul sonnige voorkamer in Vredekloof­hoogte, Kaapstad. Die twee is deftig aangetrek, en jy kan Sarie deur ‘n ring trek. Daar is ‘n gemaklikheid tussen die twee.

“Ons het ‘n lang lewe saam agter die rug, maar dié lewe was goed vir ons. Ons is gelukkig,” sê Kallie.

Kallie is in Calvinia in die Noord-Kaap gebore en het daar grootgeword. Sarie is in Wakkerstroom in Mpumalanga gebore en het in Piet Retief grootgeword – al twee plaaskinders.

Hulle het mekaar later as jongmense in Pretoria ontmoet, waar hulle albei vir die onderwys­departement gewerk het —aan dieselfde projek — toe die vonke tussen hulle begin spat het.

‘n Mooi romanse het gevolg en in 1951 het sy die ja-woord gegee. “Ons het besluit om te kyk of ons die lewe saam kan doen,” vertel Kallie. Hy verwys met liefde na haar as “my skat”, en sy kyk met deernis na hom.

Hul troudag was op ‘n sonnige winterdag buite Pretoria, op die dag van die Durban July, sê Kallie en kan nog selfs die naam van sy wenperd onthou. “Die onthaal is op die plaas gehou en al die bure het gekom. Dit was nie ‘n stywe affêre nie,” vertel Sarie. “My ma het my rok gemaak en dit het maar vier pond gekos.”

Op 'n sonnige dad in Pretoria in 1951
Op ‘n sonnige dag in Pretoria in 1951.

Uit die huwelik is ‘n seun en ‘n dogter gebore, en vandag bring vyf kleinkinders en ‘n dosyn agterkleinkinders tonne liefde in hul lewe in. “Dit is altyd lekker om hulle te sien. Dit is die blydskap van ‘n ouma se hart.”

Kallie het later onderwyser en toe skoolhoof geword in Pretoria, en ná jare van aftrede het hulle in 2002 Kaap toe getrek.

Hard maar lekker

Van die huwelik sê die Van Wyks, word dit met die jare gesout. “Om deur dik en dun te staan beteken julle staan saam deur die goeie en die slegte tye. Ons het ons verskille gehad en klippe saam op geëet, maar ook lekker kos. Die Vader sorg vir jou. Ek glo dat die lewe wat Hy jou gee kom van Bo af,” sê Kallie.

Soos enige ander huwelik sê Sarie was daar ook maar “baie dingetjies”. Maar dit als word met geloof oorkom, voeg Kallie by. Dan is wedersydse respek en uithouvermoë ook ‘n belangrike bestanddeel van ‘n sterk huwelik, stem die twee neëntigjariges.

Sarie lag breed terwyl sy vir Kallie sê om sy ore toe te druk, en fluister toe die storie oor die aand wat hy so laat by die huis opgedaag het. Nadat hy die dag die tennistoernooi gewen het, het hy saam met vriende by ‘n plaaslike hotel — waarvan hy nog die naam onthou — sy oorwinning gaan vier.

“Tyd vir aandete het gekom en gegaan. Ek was darem maar vies toe hy laataand by die huis aankom,” sê sy. “Dit was seker die enigste keer in al die jare wat ek gedink het nou skop ek jou uit.”

Kallie glimlag skuldig.”Ek dink nie daar is ‘n huwelik sonder uitdagings nie, en ons het ook ons deel gehad,” sê hy.

Tennis, kampeer en die Wildtuin

Maar oor die goeie herinneringe kan hulle nie uitgesels raak nie. Kallie sê dit was juis goeie vriendskappe en volop samesyn wat die huwelik lekker gemaak het.

Kallie was ‘n kranige tennisspeler en naweke is by die tennisbane deurgebring saam met kinders en vriende. “Ek het eintlik net bal geslaan, maar die kinders het altyd saamgekom, my jongste van babadae af in haar pram,” onthou Sarie.

“Ons het sulke goeie vriende gehad ons hele lewe lank. Ons het saam tennis gespeel, saam gekamp, vir 46 jaar lank. Ons was baie lief vir die Wildtuin en het soms drie keer per jaar die karavaan gehaak en daar gaan kuier. Ons het die beste van Suid-Afrika gesien en met min geld klaargekom.”

Gesondheidsuitdagings was daar gelukkig nie te veel nie, en dit help. “Ons is geseën.” En sou hulle mekaar weer kies? “Ja, nee, ek het die regte man gekies,” sê Sarie sonder huiwering. “Hy ken al my nukke en grille.” Kallie glimlag.

Dan staan die twee saam vir ‘n foto. Met ‘n beskermende arm om haar skouers haak Sarie liefdevol by haar man in. En as hulle glimlag, glinster 75 jaar se liefde in dié twee se oë.

ALSO READ: From kidney donor to green number: Kuils River’s Cheryl conquers 10th Comrades

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article