“Om 100 jaar oud te word, is ‘n wonderwerk. Ek kan self nie glo dat ek nou al 100 jaar op hierdie aarde is nie.”
So sê Mary Behrens wat vandeesweek haar 100ste verjaardag op ‘n swierige partytjie by Boeresjiek in Brackenfell gevier het, omring deur familie en vriende.
“Al moet ek stadiger beweeg en nie meer so goed kan sien en hoor nie, pla dit my nie regtig nie. Om 100 te word, voel vir my soos net nog ‘n verjaarsdag. Dit is tog net nog ‘n syfer en nog ‘n partytjie.”
Sy sê sy geniet steeds haar lewe omdat sy by haar dogter kan bly en gereeld haar kleinkinders en agterkleinkinders sien. “My brein is helder en ek kan nog baie dinge vir myself doen,” sê sy.
Mary brei steeds graag en het verlede jaar 100 paar sokkies vir ‘n preprimêre skool in Fisantekraal gebrei. “Dit het my laat voel dat ek nog iets vir my medemens kan doen.”
“Haar Liddle-voorouers kom oorspronklik van Ierland, en my pa se Behrens-voorouers was van Duitsland,” vertel haar dogter Ellen. “My ma was een van nege kinders en hulle het maar swaar gekry.”
Mary Behrens, gebore Liddle, is op 13 Julie 1926 in Nylstroom gebore. Haar ouers het later Pretoria toe getrek nadat haar pa werk by ‘n padkonstruksiemaatskappy gekry het.

Mary het op 18-jarige ouderdom haar toekomstige eggenoot, Johannes Behrens, ontmoet. Die egpaar het later getrou en drie kinders gehad, Ellen, wat in 1946 gebore is, Dawid, ‘n jaar later, en Miemie, vyf jaar daarna.
‘Die dierbaarste ma’
Mary was ‘n huisvrou en het haar kinders self grootgemaak. “Ek, my broer en kleinsus het die rustigste lewe gehad. Daar was geen bakleiery of skreeuery in ons huis nie. My ma en pa het pluimbal gespeel en gevolglik het ons drie kinders ook van kleins af saam met hulle pluimbal gespeel en het dit ‘n gesinsport geword,” sê Ellen.
Sy beskryf haarself as “die beste en dierbaarste ma in die hele wêreld”.
“Ek, my broer en kleinsus het die rustigste lewe gehad. Daar was geen bakleiery of skreeuery in ons huis nie. My ma is ook baie saggeaard. Sy was ‘n populere vriendin vir buurvroue in ons omgewing. Hulle het graag met haar kom gesels oor hul persoonlike probleme en advies gevra oor hoe om dit op te los,” vertel Ellen.
“Asof die huiswerk, wasgoed, kosmaak en huis skoonmaak nie genoeg was nie, het sy nog boonop tyd gemaak om al ons klere asook skoolklere self te maak.”
“Toe ek 12 jaar oud was het my ma haar eerste heupvervangingsoperasie ondergaan. Daarna moes sy weer twee keer dieselfde heupoperasies ondergaan.”
LEES OOK: “Jy gaan nooit kwaad vir mekaar slaap nie” — Kallie en Sarie se 75 jaar van liefde
Nadat haar kinders die huis verlaat het, het Mary by ‘n skool en koshuis vir gestremde kinders begin werk. Sy moes by die koshuis inwoon, en kon slegs tydens skoolvakansies huis toe gegaan het.
“Vandag is my ma 100 jaar oud en ek is 80 en ek sal nooit my ma gaan aflaai by ‘n ouetehuis of enige inrigting waar ander mense na haar moet omsien nie,” sê Ellen. “Ek het my hele lewe net liefde en ondersteuning van my ma ontvang. Ek weet dat sy ook baie moes opoffer om net te kon betaal vir my klavierlesse.”





