Menno Rose, die seun van die vermoorde Constance Scholtz, het sy stilswye verbreek terwyl die Aletta Rose-hofsaak weer eens uitgestel is.
Die familie van die vermoorde Scholtz (79) het genoeg gehad. Terwyl die hofsaak teen haar vermeende moordenaar, Rose (63) maande later nog nie eens begin het nie, het Menno sy familie se frustrasie en hartseer in woorde beskryf.
“Dit is frustrerend dat die hofsaak nog nie eens begin het nie en dat daar nog nie ‘n pleit van skuldig of onskuldig gevra is nie,” sê hy namens die familie.
Die familie het altyd geweet dat die proses lank gaan neem. “Ons verstaan dat die beskuldigde ook regte het en dat daardie regte nie geskend moet word nie, want dit kan later tot nadeel van die staat se saak wees. Maar begrip maak die gewag nie makliker nie,” sê hy.

Wat die saak nóg verder vertraag, is dat Rose haar pro bono-verdediging afgedank het.
“Sy speel haar rol goed”
Oor die dramatiese tonele by die hof waartydens Rose na bewering rassistiese uitlatings gemaak het, die media uitgekryt het en haar gesig bedek het, is die familie se mening duidelik: dit is ‘n vertoning.
“Die beskuldigde speel absoluut haar rol goed oor die hof se mening dat sy vir evaluering moet gaan om te kyk of daar moontlike sielkundige versteurdheid is,” sê Menno.
Hy sê die familie se bekommernis is as die evaluering bevind dat sy ‘n sielkundige versteurdheid het, sal sy nie toerekeningsvatbaar wees om kruisverhoor te ondergaan nie.
Uitgestel tot Julie
“Dit kan as versagtende omstandighede dien en sy kan na ‘n sielkundige inrigting verwys word eerder as om gevonnis te word.
LEES OOK: Gru-moord: Auntie Connie was gelowige vrou
“Ons voel die beskuldigde speel haar theatrical kant, want ons as familie weet dat sy nog nooit so ‘n versteurde persoonlikheid gedemonstreer het nie,” sê hy.
Die familie wil ook ‘n duidelike boodskap aan die publiek gee.
“Ons distansieer onsself van enige rassistiese uitlatings wat die beskuldigde geuiter het. Ons as familie het respek vir alle rasse binne die grense van Suid-Afrika.”
Uitgestel tot Julie
Eric Ntabazalila, woordvoerder vir die nasionale vervolgingsgesag, het bevestig het die uitstel van saak bevestig. “Haar saak is uitgestel tot 24 Julie vir die beskikbaarheid van ‘n bed — dit wil sê die wag op ‘n bed by ‘n psigiatriese inrigting vir die verpligte evaluering,” sê Ntabazalila.
Rose is glo sesde op die waglys vir ‘n bed by die Valkenberg-hospitaal.
“Sê vir Connie ek groet”
Met haar jongste hofverskyning het Rose na bewering die hof en media geskok met ‘n laaste snedige opmerking toe sy die saal verlaat het.
Volgens berigte het sy geskree: “Sê vir Connie ek sê hello.”
Dit, nadat sy ook die media met rassistiese uitlatings aangespreek het, haar gesig bedek en hofprosedures onderbreek het.
Te midde van al die drama bly die familie se wens eenvoudig en hartseer. “Geregtigheid moet geskied vir my oorlede moeder, wat die eintlike slagoffer in hierdie saak is, en dat haar grusame dood geregtigheid vra,” sê Menno.
LEES OOK: Rose vra vir Afrikaanse regshulp
Rose is op 20 Maart vanjaar in hegtenis geneem.
Sy was ook voorheen in die tronk nadat sy haar swaer in 1997 vermoor het.
Vir daardie moord is sy tot ses jaar gevangenisstraf gevonnis.
Sy het teen tye van die moord op haar suster by die oorledene tuisgegaan en het vir dae lank haar dood verdoesel, tot sy uitgevang is.





