KAAPSTAD – Die gemeenskap van Bellville-Suid is op Donderdag 19 Maart tot stilstand geruk ná die ontdekking van die grusame moord op ‘n bejaarde inwoner van Davidsstraat. Sy het na bewering aan die hand van haar jonger suster, Aletta Rose (63), gesterf, wat dieselfde aand deur die polisie in hegtenis geneem is. Rose het reeds op Maandag 23 Maart in die hof verskyn.
Vir vele mense, onder andere haar familie, is die moord op Constance Scholtz (79), ook bekend as auntie Connie, nog onwerklik.
Op Donderdag 26 Maart het Menno Rose, Connie se enigste seun, en sy vrou, Rochelle, met bewondering oor sy ma gesels in hul woning in Stikland. Menno beskryf haar as ‘n baie presiese en gelowige mens wat baie privaat was. Die skok in sy stem was hoorbaar toe hy vertel het hoe sy ma gesterf het, minder as ‘n maand voor haar 80ste verjaardag. Haar 80ste verjaardaggeskenk sou wees dat sy by haar seun sou gaan bly.
LEES OOK: Bellville South murder case postponed, victim and suspect identified as sisters

Dis ook hier waar Menno die aand van die skok-ontdekking met TygerBurger gedeel het. Jy kan sien hoe elke oomblik, van die eerste oproep af, in sy gemoed afspeel.
Menno vertel dit was Donderdagaand omtrent agtuur toe sy skoonma sy vrou bel en vertel dat iets vreemds by sy ma se huis aan die gang is.
Oop vensters skep nuuskierigheid
Volgens hom was Connie se deure en vensters elke dag om 16:00 reeds toe en was sy binne. Hy beklemtoon dat sy ma ‘n baie presiese mens was. Dus was dit vreemd vir die bure toe haar vensters die aand ná sewe steeds wawyd oop was. Dit was die eerste teken wat die bure bekommerd gemaak het.
Hy vertel: “Die vensters by my ma se huis was reg rondom die huis al van 05:00 die oggend oop en dit was heeldag oop volgens die bure. Tussen sewe-uur en halfagt die aand was die vensters steeds oop en dis toe my vrou die oproep kry.”
Sy skoonma het gebel om hulle bewus te maak van wat aangaan en omdat hulle vreemde vermoedens gehad het. Hy en sy vrou is toe onmiddellik Bellville-Suid toe. Met hul aankoms het sy skoonsuster reeds vir hulle in die pad staan en wag.
“Ek het ingegaan omdat ek die sleutel van die voorhekkie het, maar ek het nie die sleutel van my ma se deur nie. Met die sleutel het ek die hekkie oopgesluit en ons het ingegaan.
Menno vertel hy het voor sy ma se kamervenster gestaan en na haar geroep. Daar was egter geen antwoord nie.Hulle moes hul selfone se ligte na binne skyn om deur te venster te sien. Dis toe hy iets vreemds sien – dat sy ma se bed kaal is, sonder lakens en komberse.
“Ek het dit baie vreemd gevind en die deur van my ma se kamer was toe. My vrou het toe agter om die huis gegaan en een van die bure daar het gesê iemand het nou net die venster toegemaak. Sy het toe agter om gegaan, maar ek het voor gebly tussen die twee vensters en hier geskree by my ma se venster ‘Mamma! Is mamma hierso?’ En toe gaan ek om na die voorhuis se venster toe.”

Aletta se vreemde gedrag
Volgens Rochelle het een van die bure van agter af geskree dat iemand nou net die venster toegemaak het. Dis toe dat hulle ontdek dat Aletta in die huis is.
Aletta, die beskuldigde, het deur die venster geskree dat hulle die venster moet toemaak en dat sy wil gaan slaap. Hulle het uiteindelik toegang tot die huis gekry nadat Aletta die deur oopgesluit het en hulle ingelig het dat sy ma saam met ‘n vriendin, wyle tannie Leentjie, na Robertson is en nog nie teruggekeer het nie. Oor die kamerdeur wat toe is, het sy gesê dat sy ma haar sleutel saamgevat het – wat ook vreemd was vir Menno, want sy ma sou nie so iets doen nie.
Hy vertel soos hy deur die huis gestap het, het hy gevind dat die huis soos ‘n varkhok lyk. “My ma het gerook, maar lankal opgehou.” Toppertjies het die plek vol gelê en komberse op die vloer. Aletta het gevra vir kos en genoem dat daar niks in die huis is om die eet nie. Toe Menno dit noem aan sy skoonma, wat oorkant die pad woon en daai tyd buite gewag het, het sy verbaas geantwoord dat sy die twee susters nog die vorige dag gewaar het waar hulle met kospakkies van die winkel af gekom het. Dit was ook die laaste keer dat Connie lewend gesien is.
‘n Heen-en-weer gesprek tussen Aletta en Menno het voortgeduur en teen dié tyd het die gemeenskap reeds begin saamdrom.
Een van die bure het toe geskree dat daar iemand in die kamer lê met komberse toegevou. Volgens Menno kon hulle nie eintlik sien of dit iemand is wat daar lê nie. Dit was wel sy ma se bruin komberse wat op haar bed was.
Aletta het ook intussen probeer weghardloop deur die agterdeur, maar waaksame bure het haar gesien en gevang totdat die polisie opgedaag het.

Die polisie maak oop
Met die polisie se aankoms kon hulle die kamerdeur oopkry. “Die polisieman het vir my gesê: ‘net jy nou in die huis’. Daar lê iemand daar binne, maar hulle weet nie wie dit is nie. Ek moet die persoon vir hulle identifiseer.”
Die gru-ontdekking is toe gemaak: “Toe ek ingaan, staan die een polisieman oor my ma se liggaam. Ek het nie toe geweet dis my ma nie. Toe ek die kombers lig, sien ek die gedeelte van my ma se bors en liggaam. My ma se arm is toe so in haar liggaam ingedruk, maar, en ek sien net my ma se hand is nie meer in haar liggaam nie.”
Hiérdie prentjie alleen het Menno laat knak en hy moes die kamer verlaat. Teen dié tyd het hy nog nie sy ma se gesig gesien nie. Hy het ook nie geweet sy is onthoof nie.
Die polisie het hom ingelig dat die liggaam ‘decapitated’ is. “Hy het vir my gesê daar het hacking and decapitation plaasgevind.” Steeds het hy nie geweet wat dit beteken en dat sy ma onthoof is nie.
Die reaksie van die polisiebeamptes het hom egter laat besef dat iets groots fout is. Dele van sy ma se liggaam is glo in die huis versteek en deur die polisie gevind. Aletta het saam met die polisie gewerk en uitgewys waar die liggaamsdele is.
Die polisie en forensiese ondersoekers is teen Vrydagoggend halfvyf uit die huis uit en die woning is afgesper en aan die polisie oorhandig. Menno kon eers Woensdag toegang tot die huis kry.
Die motief vir die moord is steeds onbekend. Aletta sal weer op Maandag 30 Maart in die hof verskyn.
Ma se gesig in die doodskis

Menno moes Sondagoggend sy ma se liggaam gaan uitken. Hy prys die patologiedienste vir die heropbou van die liggaam. Volgens hom was die doodskoot aan haar agterkop. Hulle het dit so probeer kry dat dit weggesteek is en slegs die voorkant van haar gesig gewys.
“Ek kon sien dis nie ‘n normale liggaam wat daar lê nie. Hulle het dit so mooi gedraai dat ek nie die grusaamheid moet sien nie, maar net my ma se gesig. Die een gedeelte van ma se gesig was nog mooi. Die kaak was heeltemal los, maar hulle het dit so gedraai dat dit presentable lyk vir my en my v rou.”
Vir Menno was dit nie ‘n aangename prentjie om sy ma in daai toestand te sien nie. Sy stem breek egter wanneer hy sê: “Ma se hoof en se gesig was nie in ‘n toestand soos ek gedink het ek sal my ma eendag as sy die aarde moet verlaat op so ‘n toestand moet sien nie.
‘n Streng ma wat waardes geleer het
Verder vertel hy met trots watter gelowige en presiese mens sy was. Sy was een wat dagboek gehou het van alles en alles wat sy gedoen het, soos breiwerk, het sy neergeskryf. Sy het nog op 15 Maart laas in haar dagboekie geskryf. Sy was ook lief vir hekel en brei.
Connie het nog verlede week ‘n trui vir haar kleindogter gegee wat sy gebrei het terwyl sy besig was met Menno se een. Dit is haar laaste handewerk.
Die seun is ewe trots op hoe sy ma hom streng grootgemaak het, en die waardes wat sy hom geleer het. “Sy’t altyd vir my gesê ek het vir jou van die Here gebid en ek gee vir jou terug aan die Here. My ma het my verskriklik streng groot gemaak.”
Met baie min het sy ma hom grootgemaak en deur skool, kollege en universiteit gesit en daarvoor sal hy vir ewig dankbaar wees.

Menno sê hy sal haar lag en sin van humor die meeste mis.
Laastens voeg hy by hy verstaan dat die publiek altyd opinies sal hê oor wat gebeur het, maar hy vra dat die gemeenskap asseblief die familie se privaatheid respekteer in die tyd van rou. Hy bedank ook die Bellville-Suid- gemeenskap vir hul flink reaksie en oplettendheid.
Die roudiens was Donderdagaand in Bellville-Suid en die begrafnis sal dus volgende week 4 April plaasvind waar sy dan ter ruste gelê sal word in die Welmoed-begraafplaas.
Enigeen met meer inligting kan Faizel Hercules by 065 002 336 bel.




