Inwoners van onder meer die Bo-Kaap is bekommerd oor hul regte vir 'n skoon en vreedsame omgewing
Inwoners van die Bo-Kaap is bekommerd oor hul regte vir ‘n skoon en vreedsame omgewing.

Groei mag nie vrede opoffer nie, sê inwoners van Bo-Kaap


Die VF Plus het vandeesweek in ‘n raadsvergadering van die Stad Kaapstad ‘n beroep op die raad gedoen om toe te sien dat die regte van inwoners van sekere gebiede in Kaapstad se vrede en veiligheid geprioritiseer word terwyl daar steeds toegesien word dat ekonomiese groei plaasvind.

Dit volg nadat inwoners en sakelui van onder meer die Bo-Kaap, hul ernstige kommer tydens ‘n openbare deelnameproses uitgespreek het. Inwoners vrees dat hul regte om in ‘n veilige, skoon en vreedsame omgewing te leef, nie uitgeoefen kan word nie, te midde van die Stad se informele handelsplanne.

Pieter Jansen van Vuuren, VF Plus raadslid in die Stad Kaapstad, sê inwoners is nie tevrede met die ontwikkeling wat in sekere gebiede ten koste van inwoners en eienaars van sake-ondernemings plaasvind nie.

“Dié deelnameproses het plaasgevind toe die metro sy informele handelsplanne vir Groentemarkplein, St. George-wandellaan, die Kompanjiestuin, Kaapstad se burgersentrum, die Bo-Kaap en talle ander geïdentifiseerde liggings bekendgemaak het. Die inwoners het toe uitgewys dat die huidige bestuur van hierdie gebiede misluk het en hulle kan nie insien dat die huidige veranderinge die situasie sal verander nie,” het Jansen van Vuuren gesê.

“Inwoners van onder meer die Bo-Kaap het vertel dat toeriste wat na hierdie betrokke plekke stroom, veroorsaak dat hulle selfs sukkel om by hul voordeure uit te kom. Hulle voel dit dui op minagting van hul godsdiens en kultuur, terwyl misdaad en antisosiale gedrag toeneem.”

Lewensomstandighede moet in ag geneem word

Die VF Plus het op die vergadering versoek dat beter bestuur van die stadsvaders plaasvind deur toegewyde bestuurspanne vir belangrike informele handelsgebiede te stig, veral in sensitiewe gebiede met betrekking tot kultuur en verblyf, soos die Bo-Kaap en die Groentemarkplein.

Verder het die party versoek dat die Stad sy handelsplanne moet hersien veral vir gebiede soos die Bo-Kaap en dat gemeenskapdeelname en kulturele bewaring geprioritiseer word.

“Die afdwing van maatreëls rakende verbeterde infrastruktuur en afvalbestuurstelsels is noodsaaklik vir alle informele handelsones,” het hy gesê.

Jansen van Vuuren meen die Stad ‘n meer strategiese, datagedrewe benadering moet volg om informele handelsplekke te identifiseer, ekonomiese lewensvatbaarheid vir handelaars te balanseer en verkeersopeenhopings te vermy.

“Die lewensomstandighede van inwoners in dié betrokke gebiede moet in ag geneem word wanneer sulke besluite geneem en ontwikkeling plaasvind,” het hy afgesluit en bygevoeg dat hy die implementering van die Stad Kaapstad se plan noukeurig monitor en seker maak dat geen menseregte of die privaatheid van die inwoners geskend word nie.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article