BLOEMFONTEIN – ‘n Versoek is deur die VF Plus in die Vrystaat gerig dat die LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta) dringend ingryp in die ernstige kontantvloeiprobleme van die Masilonyana-plaaslike munisipaliteit.
Armand Cloete, VF Plus-wetgewerlid in die Vrystaat, sê tydens ‘n portefeujekomiteevergadering in die parlement het die munisipaliteit wat dorpe soos Brandfort, Theunissen en Winburg bedien, erken dat daar ‘n kontantvloeiprobleem is.
Die munisipaliteit ontvang jaarliks R157 miljoen staatsubsidies, terwyl sowat R168 miljoen aan salarisse, voordele en bonusse bestee word.
Dit beteken geld wat vir basiese dienslewering bedoel is, word byna volledig deur die salarisrekening opgeslurp.
Cloete sê dit verduidelik hoekom diensverskaffers van dié munisipaliteit nie betaal word nie, terwyl inwoners sonder behoorlike dienste oor die weg moet kom. “Daar is glo nie eers geld vir brandstof vir die munisipaliteit se voertuie nie.”
Hy sê die ANC wat hier in bewind is, het Masilonyana in ‘n salaris- en kaderontplooingsmasjien verander terwyl dienste in duie stort.






