Lynette Brummer en haar regsverteenwoordiger konsulteer tydens die brgaansoek in 2025. FOTO: Marti Will

Ouetehuis-aanrandingsaak weer uitgestel

Lynette Brummer en haar regsverteenwoordiger konsulteer tydens die brgaansoek in 2025. FOTO: Marti Will

WELKOM – Die hofsaak rakende die beweerde aanranding van ‘n 81-jarige vrou by ‘n ouetehuis in Welkom sleep nou bykans ‘n jaar aan, en is weer uitgestel sodat die prokureur wat beskuldigde een en twee verteenwoordig bykomende inligting kan kry.

Die saak sal nou op 10 Julie in die Welkom-streekhof voorkom. Die prokureur wat die ander vier beskuldigdes verteenwoordig, het tot die uitstel ingestem.

Die verhoor sou op 10, 13 en 14 Julie in die Welkom-streekhof begin het, maar die regsverteenwoordigers sal nou eers weer op 10 Julie in die hof byeenkom om die pad vorentoe te besluit en ‘n begindatum vas te stel.

Die opspraakwekkende saak het in 2025 begin nadat die polisie die ses beskuldigdes in Julie 2025 in hegtenis geneem het.

Die aanklagte teen Lynette Brummer (64), Anna Fourie (73), Nomsa Ngcongwane (56), Prudence Majorobella (35), Mofolo Ntswaki (30) en Puseleletso Mola (33) sluit in poging tot moord, aanranding met die opset om ernstige liggaamlike leed te veroorsaak, en ontvoering van die 81-jarige vrou by ‘n verswakte-sorg-tehuis in Welkom.

Die staat kla hulle ook aan op die Wet op Ouer Persone 13 van 2006 vir die beweerde fisiese en geestelike mishandeling van ‘n bejaarde.

Landdros Ludidi het tydens die uitstel op Maandag 8 Desember 2025 gesê dat hierdie aanklagte baie ernstig is en in die streekhof strawwe van nie minder as 15 jaar gevangenisstraf elk nie dra.

Volgens getuienis wat tydens die vorige hofsitting op 6 Augustus 2025 aangehoor is, het Brummer die slagoffer na bewering aangerand. Daar is ook melding gemaak van ‘n stemboodskap waarin Brummer na bewering aan die dogter van die slagoffer erken het dat sy haar ma geklap het.

Die beweerde aanranding het by die ouetehuis plaasgevind. Die slagoffer se dogter het die saak by die polisie aangemeld en die saak geopen.

Die Welkom-landdroshof het Brummer, beskuldigde nommer een, borg van R5 000 toegestaan, terwyl die ander beskuldigdes elk borg van R1 000 ontvang het. Die borgvoorwaardes bly van krag en is verleng.

Die 81-jarige Bettie Payne van Welkom wat deur die ses beskuldigdes aangerand en mishandel is, sterk goed op die oomblik aan volgens haar dogter Mariana Payne.
Die 81-jarige Bettie Payne van Welkom wat deur die ses beskuldigdes aangerand en mishandel is, sterk goed op die oomblik aan volgens haar dogter Mariana Payne.

Brummer is onder streng voorwaardes borg toegestaan:

  • Sy mag nie naby die ouetehuis kom nie
  • Sy mag nie met getuies inmeng, hulle intimideer of kontak maak nie
  • Sy mag nie met getuienis peuter of die slagoffer nader nie
  • Sy moet ten minste ‘n 100 meter radius van die sentrum handhaaf

Na betaling van borg het Brummer ses uur gehad om haar paspoort in te handig.

Vista het in 2025 begin rapporteer toe die dade aan die lig gekom het na die ontdekking van videokamera-opnames wat in die slagoffer se kamer by die ouetehuis geneem is. Personeel was bewus van die kamera se teenwoordigheid.

Die video-opnames en foto’s toon verbale, geestelike en fisiese mishandeling waaraan die bejaarde vrou onderwerp is. Die bejaarde vrou is fisies bedwing en met kleefband vasgebind, met haar mond en hande vasgebind om beweging te voorkom.

Die tonele in die video word ondersteun deur foto’s wat gekneusde hande, bloeiende lippe van die kleefband, en kneusplekke, krapmerke en skrape aan die gesig toon.

Die landdros het op 28 Mei, toe hy die saak na Julie uitgestel het, bevestig dat hierdie streng borgvoorwaardes steeds van krag is.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article