Safra
Leon Oosthuizen en Stephaan van Zyl by ‘n vorige konsert-geleentheid in 2025.

Erfenisdag-gala bring klanke van Suider-Afrika na Kaapstad


Die Suid-Afrikaanse Vryrietinstrumentvereniging (Safra) se Erfenisgala 2026 vind vandeesmaand by die Hugo Lambrecht-musieksentrum se ouditorium in Pictonstraat, Parow, plaas as deel van Erfenismaand-feesvieringe.

Volgens Safra Free Reed Mzansi, die nie-winsgewende organisasie wat die geleentheid aanbied en ook as die Suid-Afrikaanse Vryrietinstrumentvereniging bekend staan, bring dié konsert toonaangewende trekklavier-, konsertina- en mondfluitjiespelers, ensembles, dansers en gasmusikante uit die Wes-Kaap, Noord-Kaap, Gauteng, KwaZulu-Natal en Lesotho byeen.

Wye verskeidenheid

Die gala vier die merkwaardige verskeidenheid musiek wat met vryrietinstrumente – waaronder die trekklavier, konsertina en mondfluitjie – verbind word, met ‘n program wat strek van klassieke musiek, boeremusiek, maskandi en famo tot Franse chanson, Suid-Afrikaanse pop, Duitse schlager, Argentynse tango, Keltiese musiek en Skotse kontreidans.

Die geleentheid herdenk ook ‘n merkwaardige sameloop van erfenismylpale uit 1926, soos die stigting van die Krugerwildtuin; die eerste boeremusiek-opnames; die eerste opname van “Die Stem”; en die geboorte van die legendariese Suid-Afrikaanse trekklavierspeler wyle Nico Carstens.

Hugo Lambrecht-musieksentrum

Die vereniging sê 2026 vier boonop 40 jaar sedert die totstandkoming van die Hugo Lambrechts-musieksentrum en die vrystelling van Paul Simon se baanbrekeralbum Graceland, wat Suider-Afrikaanse musiekklanke – soos die kenmerkende klank van die trekklavier – aan wydlopende internasionale gehore bekendgestel het.

“Vryrietinstrumente is in ‘n unieke posisie om plaaslik én internasionaal brûe te bou,” sê Leon Oosthuizen, president van Safra Free Reed Mzansi.

Gehore word genooi om ‘n grootse Erfenisdagjubileum te kom ontdek en te geniet, en verras te word deur ‘n viering van ons mense, ons trots en ons passie — gedeelde musiekklanke wat ons hier aan die suidpunt van Afrika verbind, sê Oosthuizen. “Ons het meer in gemeen as wat ons dalk besef. Deur hierdie verbintenisse te vier, bring die Erfenisgala ons uiteenlopende erfenisklanke na die konsertverhoog — met ’n sprankeltjie hoop.”

Die geleentheid – Safra Erfenisgala 2026 – vind op Donderdag 24 September om 15:00 plaas.

Kaartjies vir die geleentheid is by www.quicket.co.za beskikbaar.

LEES OOK: Kleinmond inniebos Kunstefees returns with art, music and culture

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article