Nico Scheepers
Die bekroonde regisseur Nico Scheepers is terug by die 14de kykNET Silwerskermfees (19-22 Augustus 2026) met ‘Landmyn’.

Groot verskeidenheid plaaslike stories wag by 14de kykNET Silwerskermfees

Nico Scheepers
Die bekroonde regisseur Nico Scheepers is terug by die 14de kykNET Silwerskermfees (19-22 Augustus 2026) met ‘Landmyn’.

Die 14de kykNET Silwerskermfees, wat van 19 tot 22 Augustus in Kampsbaai, Kaapstad, plaasvind, spog met ’n uiteenlopende aanbod wat die diepte en diversiteit van Afrikaanse rolprentkuns weerspieël.

Waldimar Pelser, KykNET se direkteur van Premium-kanale, sê die fees “behoort aan jong filmmakers, met baie om te wys en te sê”.

Altesaam 22 rolprente sal vertoon word: 17 kortfilms (waarvan vyf dokumentêre kortprente) en vyf vollengte-rolprente (een dokumentêre film). Gevestigde regisseurs en draaiboekskrywers wys hul slag, maar nuwe filmmakers kry ook ‘n kans. Altesaam 18 rolprente ding in die kompetisie mee en die pryswenners sal op Saterdag 22 Augustus aangekondig word.

Volgens Pelser staan nuwe stemme vanjaar sentraal, met dokkies en kortfilms wat wydlopende temas in verskillende variante van Afrikaans ondersoek. Die geskiedenis wat in sommige verhale ingeweef word, vorm deel van die grein van Suid-Afrikaanse stories en sal tot ’n nuwe geslag kykers spreek.

Van liefde tot geweld

Onder die kortfilms is daar liefdesverhale – van die verkwiklike en komiese (Twee persent) tot die steeds verbode en onaanvaarbare gay-liefde (As ek kon kies).

Die dood staan voorop in Wag ’n bietjie, met ’n seun wat ’n vreemdeling betaal om by sy ma te sit in haar sterwensure, terwyl die nasate in ’n Poppy op die heuwel in die middel van die nag self ’n graf vir ’n geliefde grawe sodat sy langs haar ma ter ruste gelê kan word.

Geweld as tema word uit verskillende hoeke benader: ’n paartjie wat laat in die nag in die strate van Kaapstad beroof word (Trilstraat) en ’n verwikkelde blik op geslagsgeweld (Verwerking).

Die soeke na aanvaarding en om jou identiteit uit te leef of drome na te jaag, word belig in Genoeg, Short Back & Sides en Yaadt Queen. En Change gooi ’n muntstuk in die lug en sê, maak nie saak waar hy val nie, kop of stert, tye verander en die dae van kleingeld is getel … iets wat so deel van ons gemeenskappe en lewens was.

Short Back and Sides
‘Short Back & Sides’ van die regisseur Hennie van Deventer vertel die verhaal van Freek, ’n ongemaklike jong man wat hom van die wêreld afgesluit het.

Vrae

Die makers van kort dokkies stel interessante vrae. Hoe voel dit om ’n rooikop te wees (Rooi van aard) – of ’n ware armdruk-kampioen (Druk dit!). Of ’n versamelaar wat ’n Tretchikoff-obsessie ontwikkel ná ’n internetkopie (Pappa Kitsch)? Hoe vlak lê die letsels nog van gedwonge verskuiwings onder die Groepsgebiedewet (Die grond onthou)?  En wat verg dit om top-sportmense (van rugbyspelers tot swemmers) se koppe gesond te hou (Die gees agter die spiere)?

Niël Coetzee, regisseur van 'Rooi van aard'.
Niël Coetzee, regisseur van die dokumentêr, ‘Rooi van aard’.

Pelser sê kykNET is trots op hierdie aanbod, “op filmmakers wat wondere verrig. In ’n tyd van toenemende druk en verandering bly die fees ’n vaste anker: ’n ruimte waar rolprente gekyk word, nuwe stemme ontdek word, en gesprekke gevoer word oor die toekoms, volhoubaarheid en die groei van ons bedryf.”

Bekroondes

Nico Scheepers is terug met Landmyn, Jason Jacobs en Devon Delmar met Marita van der Vyver se jeugroman Al wat ek weet, en Zandré Coetzer met Silas en die Ysbeer op Tafelberg. Hul rolprente wat in 2025 by die Silwerskermfees te sien was, was onderskeidelik Hen, Carissa en My f*k, Marelize!.

Bekroonde prente wat reeds by verskeie internasionale feeste vertoon is en op die program is, sluit in Jacobs en Delmar se Variasies op ’n tema – wenner van die gesogte Tiger-prys (die topprys) by die Rotterdamse Internasionale Rolprentfees – asook Dian Weys se kortprent Aasvoëls en die regisseur en medeskrywer Aadil Dhalech se Bosryer.

Die program sluit ook die vollengte-dokumentêr From Dust We Spin van Julia Jansch in – onlangs vertoon by die Durban Internasionale Filmfees – wat ’n intieme blik op ‘spinning’ as subkultuur én gemeenskapskrag bied.

Plaaslike stories

Pelser sê die Silwerskermfees is ’n geleentheid vir gehore om Suid-Afrika se stories te geniet en kykNET nooi almal uit om die films te ondersteun – hetsy by die fees of wanneer hulle hul pad na die bioskoop en ander skerms vind.

“Dis hoe ons die bedryf lewendig hou en laat groei. Hierdie films gee ’n blik op die baie maniere waarop Afrikaans geleef en ervaar word – vasgevang deur die lens van die filmmakers wat dit skep.”

Soos verlede jaar word enkele episodes van nuwe televisieprogramme ook op die fees vertoon. Dit is prestigeryke produksies wat in samewerking met internasionale vennote gemaak is.

Besoek www.silwerskermfees.co.za vir die volledige program, onder meer met gesprekke, werksessies en ’n meesterklas. Aansoeke om dié geleenthede by te woon is oop maar plek is beperk.

Besoek Quicket vir kaartjies vir die films asook die bloutapyt-geleentheid op Saterdag 22 Augustus.

Die kykNET Silwerskermfees word deur Stad Kaapstad, Vuma, die Dagbreek Trust, Village ’n Life en die Nasionale Rolprent- en Videostigting (NFVF) geborg.

LEES OOK: Wêreldbekende klassieke musici by kamermusiekfees in Stellenbosch

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article