Aletta Rose (63) wat na bewering haar suster wreed vermoor het, het vandag (Dinsdag 19 Mei) weer in die Bellville-hof verskyn — haar tweede verskyning sedert 12 Mei — en dit het duidelik geword dat haar regsverteenwoordiging nog nie in orde is nie.
Die verskyning vandag het gevolg op ‘n dramatiese voorval verlede week toe Rose glo geweier het om in die voertuig te klim vir haar verpligte hofverskyning op 12 Mei. Netwerk24 het verlede week berig dat die staatsaanklaer gesê het die 63-jarige het ‘n polisieman voor die bors gegryp en openlik geweier om saam te gaan, wat ‘n groot bohaai veroorsaak het.
Die betrokke adjudant-offisier was glo wel by die hof teenwoordig, maar het nie met die media gepraat nie. Rose se verdediging was daardie dag ook afwesig weens persoonlike redes, waarna die saak tot vandag uitgestel is.
LEES OOK: Gru-moord: Auntie Connie was gelowige vrou
Rose het vandag die hof meegedeel dat sy nie deur die huidige regshulp verteenwoordig wil word nie. Toe die aanklaer wou weet wat die probleem is, het Rose verduidelik dat die vrou gejok het oor haar adres en dat sy iemand wil hê wat haar taal — Afrikaans — praat. Die regsverteenwoordiger sal nou met haar bestuur skakel om ‘n Afrikaanssprekende verteenwoordiger vir haar te bekom.

Die kwessie van borgtog bly voorlopig op ys. Rose het die hof versoek om eers met haar seun kontak te maak voordat sy ‘n borgtogsaansoek indien. Sy het genoem dat haar seun op 5 Mei by die hof was, maar dat hy nie toegelaat is om haar te sien nie. Die aanklaer het wel gevra of sy om borgtog aansoek wil doen, maar beklemtoon dat die regsverteenwoordigingskwessie eers uitgeklaar moet word voordat die saak verder kan gaan.
Intussen het dit aan die lig gekom dat Rose se seun, wat in Kuilsrivier woon, aangedui het dat hy die borgstellingsaangeleentheid met sy vrou moet bespreek. Hy het ook nog nie kontak gemaak met die ondersoekbeampte nie en het laat weet hy sal nie meer besoeke aflê nie. Rose het genoem sy kan voorlopig via Facebook met hom skakel.
Verblyfopsies en verdere verskynings
Wat haar verblyfopsies betref, het Rose meer as een moontlikheid volgens haar. Benewens haar seun in Kuilsrivier, het sy ‘n dogter in Hawston. Rose, wat ‘n pensioen ontvang, sê sy reis gereeld per taxi tussen die twee plekke, nadat die staatsaanklaer wou weet hoe sy by die hof gaan uitkom wanneer sy moet verskyn.
LEES OOK: Vermeende Atlantis-bylmoordenaar se borgtog geweier
Die saak is voorlopig tot Donderdag (21 Mei) uitgestel. Rose sal voortaan via videoverbinding vanaf Pollsmoor aan die D-hof deelneem om te konsulteer oor haar regsverteenwoordiging.
Agtergrond
Rose is op 20 Maart in hegtenis geneem en aangekla van moord ingevolge die Wet op Gesinsgeweld nadat haar suster, Constance Scholtz (79), na bewering aangerand, onthoof en haar hande afgesny is. Sy het ook ‘n kriminele verlede — in 1997 is sy ses jaar tronkstraf opgelê vir die moord op haar swaer, waarvan drie jaar opgeskort is.





