Kareepark soos dit verlede jaar gelyk het.

Kareepark in Brackenfell lyk vandag onherkenbaar — dis die trots van `n gemeenskap wat self inisiatief geneem het met die instandhouding van ‘n openbare ruimte.

Waar ‘n jaar gelede nog ‘n dorre, verwaarlooste sandvlakte was, het ‘n groep toegewyde inwoners op eie onkoste ‘n aantreklike buitelugpark geskep. Die park is vandag toegerus met jong bome, rusbanke, wandelroetes en ‘n swaai vir kinders.

Sowat ‘n jaar gelede het ‘n groepie bekommerde inwoners besluit iets moet aan die sandvlakte gedoen word.

“Die gras het gevrek, die besproeiingstelsel is jare lank nie in stand gehou nie, en wat oorgebly het, was grootliks sand,” sê Dudley Pretorius, voorsitter van die Ferndale-buurtwag wat die projek gekoördineer het. “Ons het almal bymekaar gekom en uit ons eie popup-sproeiers gaan koop,” vertel hy.

Vandag is dit die trots van die gemeenskap.
Vandag is dit die trots van die gemeenskap.

“Ons het die besproeiing weer aan die gang gekry, bome begin plant, tuine aangelê en ‘n grassnyer gehuur om die gras self te sny. En glo my, daai grasnyer wil gestoot word deur die sandkolle.”

Inwoners het die projek self gefinansier sonder enige ondersteuning in die beginstadium. Die harde werk het nie ongemerk verbygegaan nie, en nadat Pretorius kontak gemaak het met wykraadslid Johan Loots, het hy die park besoek.

“Hy was baie beïndruk met wat ons gedoen het, en het toe gereël dat die park een keer per maand deur die Stad se parke-afdeling gesny word. Die parke-afdeling het ook self kom besoek aflê om ons te bedank vir ons harde werk met die instandhouding van die park. Ons is ook genooi om amptelik deel te raak van die Stad Kaapstad se Vriende van die Parke-program,” sê Pretorius.

Die Vriende van die Parke is vrywilliger-verenigings wat vennootskappe met die Stad se parke-afdeling vorm met die doel om te help met die instandhouding, bewaring en bestuur van parke en ander oop ruimtes.

Pretorius sê daar was aanvanklik ongelukkigheid onder inwoners oor die toestand van die park.

“Maar ons het toe besluit om dit self te doen, omdat dit ons almal se huiswaardes raak. Niemand wil tog oorkant ‘n sandput woon nie.”

Die groep het ook ‘n parkeergebied voor ‘n paar huise aangebring om te verhoed dat besoekers op die nuwe gras parkeer.

‘n Inspirasie vir ander gemeenskappe

Die sukses van Kareepark is die vrug van samewerking, volgens ‘n inwoner, Winston Petersen, wat ook betrokke was by die projek.

LEES OOK: Where nature meets community: How KOS Gardens is feeding hope in Kraaifontein

Petersen hoop dat die sukses van Kareepark ander gemeenskappe sal aanspoor om eienaarskap van hul woongebiede te neem, waar soortgelyke inisiatiewe ‘n groot verskil kan maak.

“So dikwels konsentreer ons op die negatiewe in ons buurte,” sê hy. “Maar hier is ‘n suksesverhaal wat bewys dat gewone mense buitengewone dinge kan vermag wanneer hulle saamstaan.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article