MOORREESBURG – Die gevierde Swartlandskou sal vanjaar vir die 91ste keer plaasvind by die Moorreesburgskougronde vanaf Woensdag 3 tot Saterdag 6 September 2025, met ‘n verskeidenheid van landbou-uitstallings, kompetisies en gesinsvermaak wat duisende besoekers na die Swartland sal lok.
Die vier-dag lange gebeurtenis beloof ‘n uitgebreide program met wêreldgehalte implemente-uitstallings, interaktiewe demonstrasies, ‘n nuwe kinderarea, en ‘n hele reeks landbou-kompetisies wat die beste van Suid-Afrika se boerderysektor sal wys.
Wêreldrekordhouer trek aandag
Een van die jaar se groot trekpleisters sal die skaapskeerkampioenskap op Saterdag 6 September wees, waar Tinus du Plessis, Suid-Afrika se eie skaapskeerkoning, sy vaardighede sal demonstreer. Du Plessis het onlangs geskiedenis gemaak toe hy saam met Aidan Copp van Nieu-Seeland op 22 April vanjaar ‘n wêreldrekord opgestel het vir die meeste tweestand 9-uur Merino-lammers geskeer – ‘n verstommende 970 lammers in totaal. Du Plessis se individuele bydrae van 447 lammers is ook ‘n nuwe Suid-Afrikaanse 9-uur Merino-lam solo rekord.

Vleisbeesrasse en nuwe toevoegings
Die skou sal agt top vleisbeesrasse akkommodeer, met kompetisies vir Senior Kampioen Bul, Senior Kampioen Koei, en Opperste Ras Kampioen titels. Die Romagnola ras sal vir die eerste keer by Swartlandskou deelneem, saam met gevestigde rasse soos Herefords, Simmentalers, Rooi Angus, Swart Angus, Santa Gertrudis, Charolais en Sussex.
Die organiseerders het onlangs erkenning ontvang as Beste Jeugskou-aanbieder by die Agri-Expo kongres. Die Jeugskou op Woensdag 3 September sal meer as 250 deelnemers in 16 dissiplines van die Wes-Kaap Kwalifiserende Streekskou sien meeding, met nuwe kategorieë soos Kulinêre Kuns, Fotografie en Suiwelbereiding.
Vermaak vir die hele gesin
Die gewilde Damesdag op Woensdag 3 September verwag meer as 500 deelnemers vir ‘n dag van inspirasie en vermaak. Hoogtepunte sluit in optredes deur Boys R Back en Lizz Meiring se “Real Housewife” solo vertoning.
‘n Splinternuwe kinderarea sal aktiwiteite soos bungee trampolines, paintball, springkastele en trapkarre bied, terwyl perdeliefhebbers kan uitsien na die Vlaamperd SA Kampioenskappe en die tradisionele 8-span wa-perde vertoning op Saterdag.
Musiekprogram en akkommodasie
Die aandvermaakprogram begin Donderdagaand 4 September met Wynand en Chereé, gevolg deur New Horizon en Brendan Peyper op Vrydag, en ‘n uitgebreide lys kunstenaars insluitend Chris Rain, Ruan Theron en ONS op Saterdag.
‘n Nuwe Tentedorp sal vir die eerste keer kamp-akkommodasie by die skougronde vir feesgangers en uitstallers bied.
Landbou se toekoms onder die loep
Die landbou-oggend op Vrydag 5 September sal fokus op “Boerdery se Toekoms – Ons skei die koring van die kaf,” met sprekers soos Theo Vorster, Prof. Johan Fourie, Tobias Doyer en JP Landman wat insigte oor die toekoms van landbou sal deel.
Kaartjies is beskikbaar aanlyn via TIXSA by https://tickets.tixsa.co.za/event/swartlandskou-moorreesburg. Meer inligting is beskikbaar by www.swartlandskou.co.za.






You must be logged in to post a comment.