Die uitbraak van bek-en-klouseer by Karan Beef se aanleg in Heidelberg, bedreig die land se beesvleis sekerheid.
Die uitbraak van bek-en-klouseer by Karan Beef se aanleg in Heidelberg, Afrika se grootste beesvleis produsent, bedreig die land se beesvleis sekerheid.


Die Suid-Afrikaanse rooivleisbedryf staar ’n ernstige krisis in die gesig nadat bek-en-klouseer (BKS) by die land se grootste voerkraal, Karan Beef in Heidelberg, Gauteng, bevestig is. Hierdie jongste uitbraak, wat op 30 Mei geïdentifiseer is, vorm deel van ’n reeks uitbrake wat verskeie provinsies, insluitend Gauteng, KwaZulu-Natal en Mpumalanga, sedert die begin van die jaar getref het.

Karan Beef se fasiliteit in Heidelberg, die grootste beesvleis produsent in Afrika en en van die grootste voerkrale ter wêreld, huisves ongeveer 150 000 beeste op enige gegewe tydstip en strek oor 2 330 hektaar. Ten spyte van streng bio-beveiliging en die internasionaal-erkende akkreditasie wat die maatskappy reeds in 2007 behaal het, kon die uitbraak nie verhoed word nie.

Die uitbraak het ’n onmiddellike impak op Suid-Afrika se uitvoermarkte gehad, met verskeie handelsvennote, insluitend China, wat invoere van gesplete-hoef diere en verwante produkte uit Suid-Afrika opgeskort het. Hierdie verbod op uitvoere is ’n ernstige slag vir die landbousektor, wat vroeër vanjaar ’n stewige groei van 10% getoon het.

Die minister van landbou, John Steenhuisen, het reeds daadwerklik ingegryp en R72 miljoen beskikbaar gestel vir entstofaankope om die uitbraak te bekamp. Die departement van landbou het ook streng beperkings op die beweging van vee geïmplementeer om die verspreiding van die siekte te beperk.

Volgens deskundiges is dit te verwagte dat binnelandse beesvleispryse aanvanklik sal daal, aangesien vleis wat vir uitvoer bestem was nou plaaslik verkoop moet word. Die siekte is meestal nie dodelik vir volwasse beeste nie, maar die ekonomiese impak op die bedryf kan vernietigend wees.

In teenstelling met die situasie in ander provinsies, bly die Wes-Kaap steeds BKS-vry. Volgens ’n onlangse verklaring deur die DA in die Wes-Kaap, is hierdie prestasie te danke aan sterk koördinasie tussen boere, die Wes-Kaapse departement van landbou, en plaaslike veeartsenydienste.

“Die bedreiging van bek-en-klouseer is ’n beduidende risiko, nie net vir diergesondheid nie, maar vir die lewensbestaan en ekonomiese veerkragtigheid van die landelike ekonomie,” het Noko Masipa LPP gesê. “Die DA sal aanhou veg vir slim, plaaslik-gedrewe beleide wat boere, vee, en verbruikers beskerm.”

Die DA het ook aangekondig dat die Wes-Kaapse-regering besig is om die veeartsenydienste-wetsontwerp voor te berei, wat die provinsie se bio-beveiligingsmaatreëls sal versterk en siektewaarneming en reaksiekapasiteit sal verbeter. Die party het ook parlementêre vrae aan die provinsiale departement van landbou voorgelê om meer inligting te verkry oor die voorkomings-, inperkings-, en versagtingsmaatreëls wat tans in plek is.

Die BKS-uitbraak by Karan Beef beklemtoon die voortdurende risiko’s vir die veebedryf, selfs met streng beheermaatreëls in plek. Karan Beef werk nou saam met staatsveeartsenydienste om die uitbraak te beheer en verdere risiko’s vir die breër bedryf te minimaliseer.

Die situasie is veral kommerwekkend aangesien Karan Beef ’n deurslaggewende rol speel in die voorsiening van beesvleis aan kleinhandelaars, slaghuise, en restaurante regoor Suid-Afrika. Deskundiges waarsku dat hierdie uitbraak kan lei tot korttermyn-veranderinge in die beskikbaarheid van sekere snitte beesvleis.

Die DA doen ’n beroep op alle veeboere in die Wes-Kaap om uiters waaksaam te bly, streng by bewegingsprotokolle te hou, en enige verdagte simptome onmiddellik aan hul naaste departement van landbou-distrikskantoor te rapporteer.

Die nasionale regering beplan om nuwe beheermaatreëls in te stel op die beweging van gesplete-hoef vee regoor die land. Hierdie direktiewe, wat binnekort gepubliseer sal word, sal strenger voorwaardes plaas op veetransport, insluitend verbeterde toesig en nakoming van bio-beveiligingsprotokolle.

“Die DA verwelkom enige maatreël wat bio-beveiliging-versterking prioritiseer, maar beklemtoon dat hierdie regulasies met duidelikheid, konsekwentheid, en sterk afdwinging toegepas moet word,” het Masipa gesê. “Gegewe die hoë ekonomiese inset, kan enige versuim om bewegingsbeheer behoorlik te bestuur die nasionale inperkingspoging ondermyn.

“Die stryd teen bek-en-klouseer bly ’n prioriteit vir beide die regering en die privaatsektor, met die oorlewing van Suid-Afrika se vleisbedryf wat op die spel is.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article