Hooffoto: Wellington-polsiestasie in Jan van Riebeeckstraat. Foto: Jana Scheepers. Boonste inlasfoto: Die beskuldigde, Wayne Wantza (42). Foto: Facebook. Onderste inlasfoto: Elzaan Gallant, die slagoffer wat oorleef het. Foto: Elzaan Gallant/ Facebook

Die polisiespeurder Wayne Wantza (42), wat na bewering verlede maand verskeie skote in Schoongezichtstraat, Wellington, afgevuur het in ‘n voorval waartydens sy eksmeisie ernstig gewond is en haar kêrel, Petrus Jacobs (49), dood is, het vandag in die landdroshof in Wellington sy borgtogaansoek laat vaar.

Volgens die staatsaanklaer, William da Grass, aanvaar die staat Wantza se besluit. Die staat het ook aangekondig dat ‘n moontlike pleitooreenkoms met Wantza en sy regsverteenwoordiger, André Brown, bespreek word.

Wayne Wantza (42) in die beskuldigde bank in die Wellington-landdroshof. Foto: Jana Scheepers

Brown het buite die hof aan die Paarl Post gesê dat ‘n finale pleitooreenkoms nog nie op die tafel is nie.

Die staatsaanklaer wag ook nog op verskeie uitstaande verslae, het die staat aangedui, naamlik die ballistiese verslag, asook die beëdigde verklaring van die slagoffer, Elzaan Gallant.

Sy is glo sewe keer deur Wantza geskiet, maar het wonderbaarlik oorleef.

Die polisie het Gallant glo in die hospitaal besoek, maar sy was steeds te swak om te praat.

Verskeie verklarings oor die voorval is ook nog uitstaande.

Volgens Brown “gaan dit onder die omstandighede nie goed met sy kliënt [Wantza] nie”.

“Hy [Wantza] was vir 22 jaar in diens in die polisie en het nog nooit met die gereg gebots nie.”

Brown het ook aangedui dat Wantza ‘n enkelouer van drie kinders is, van wie een in sy sorg geplaas is.

Die oorlede Petrus Jacobs (49). Foto: Lower Paarl Blues RFC/ Facebook

Die koerant het die eienaar van die huis in Schoongezichtstraat, waar die skietery plaasgevind het, buite die hof vir kommentaar oor Gallant se toestand genader.

Volgens haar “sterk Gallant goed aan in die hospitaal” nadat sy ‘n dag nadat sy uit die hospitaal ontslaan is, ‘n terugslag ervaar het toe haar longe platgeval het, soos berig deur Netwerk24.

Die huiseienaar wou geen ander kommentaar lewer nie.

Wantza word aangekla van moord met voorbedagte rade sowel as poging tot moord.

Wantza is ‘n paar uur ná die noodlottige skietery op 26 Julie in Moorreesburg in hegtenis geneem nadat hy glo ná die voorval van die toneel af gevlug het.

Die misdaadtoneel in Schoongezichtstraat in Wellington waar Petrus Jacobs (49) doodgeskiet is en Elzaan Gallant in die skietery gewond is. Foto: Wellingtoners/ Facebook

Volgens berigte het die skietvoorval uit ‘n beweerde liefdesdriehoek ontstaan.

Paarl Post het voorheen berig dat Wantza op die dag van die voorval by Jacobs se woning opgedaag en Gallant, met wie hy voorheen ‘n verhouding gehad het, genader het, waarna hy op beide haar en Jacobs losgebrand en Jacobs blykbaar vyf keer geskiet het

Volgens Netwerk24 het Wantza sy persoonlike wapen, ‘n 9 mm-Glock-pistool, gebruik om op Jacobs, Gallant en ‘n derde slagoffer, haar vriendin, te skiet.

Gallant is glo van Bishop Lavis op die Kaapse Vlakte, het Netwerk24 berig.

In ‘n vorige hofverskyning het dit aan die lig gekom dat Wantza as speurder ernstige en gewelddadige misdade, in- sluitend bendeverwante sake, ondersoek het en as sersant gedien het. Hy was verbonde aan die Kleinvlei-polisiekantoor, soos berig deur Netwerk24.

Volgens die klagstaat woon hy ook in Kleinvlei.

Die oorlede Jacobs, oorspronklik van die Paarl, het by Metrorail in die Paarl gewerk en was by die Hugenote-treinstasie in die Klein Drakenstein-pad gestassioneer.

Paarl Post het by ‘n vorige geleentheid na die Jacobs-familie uitgereik, maar hulle het aangedui dat hulle nie met die media wil praat nie.

Die landdros Cyril Croutz het die saak tot 26 September vir ‘n pleitooreenkoms uitgestel.

Die ondersoekbeampte AO Louw van die teenbende-eenheid, was ook teenwoordig in die hof.

LEES NÓG: Speurder in hegtenis na Wellington-skietvoorval

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article