Wayne Wantza
Wayne Wantza. Foto: Argief/ Jana Scheepers

WELLINGTON – Die moordsaak teen die voormalige polisiespeurder Wayne Wantza (in sy 40s) is weer in die Wellington-landdroshof uitgestel nadat hy vandag (16 April) vlugtig verskyn het. Sy volgende hofverskyning is vir 18 Mei geskeduleer terwyl die hof steeds wag op ’n bed en ‘n psigiatriese evaluasie van Valkenberg-hospitaal.

Wantza, wat aangekla word van moord met voorbedagte rade en poging tot moord, bly in aanhouding terwyl die uitstaande verslag oor sy geestestoestand afgehandel word. Die saak se vordering is reeds vir maande vertraag weens die wagtyd vir ’n plek by Valkenberg en die daaropvolgende evaluasie.

Die beskuldigde het vroeër vanjaar in die hof verskyn waar beslis is dat hy vir psigiatriese waarneming verwys moet word. Hy is aanvanklik by Paarl-hospitaal opgeneem, waarna verdere assesserings by Valkenberg gevolg het.

Paarl Post het verlede maand berig dat Paarl-hospitaal se psigiater, dr. Charl Prinsloo, dit wenslik gevind het dat hy deur hiérdie psigiatriese hospitaal geëvalueer word.

Hy is op 24 Februarie by Paarl-hospitaal geëvalueer nadat hy op 4 Februarie in die landdroshof verskyn het.

Die saak spruit uit ’n skietvoorval op 26 Julie verlede jaar in Schoongezichtstraat in Wellington. Wantza het na bewering sy eksmeisie, Elzaan Gallant, verskeie kere geskiet en haar nuwe kêrel, Petrus Jacobs (49), noodlottig gewond.

Moordsaak teen oud-speurder Wayne Wantza weer uitgestel tot 18 Mei terwyl hof steeds wag op uitstaande Valkenberg psigiatriese verslag.
Elzaan Gallant. Foto: Argief

Gallant is sewe keer geskiet, vyf keer in haar bors en een keer in elke arm, terwyl Jacobs weens een koeël in die bors gesterf het met die koeël wat glo regdeur sy ruggraat is.

Paarl Post het vroeër berig dat Wantza op die dag van die voorval by ‘n woning in Wellington opgedaag en Gallant, met wie hy voorheen ‘n verhouding gehad het, genader het, voor hy op haar en Jacobs losgebrand het.

Dit is tans onduidelik hoe dit met Gallant se herstelproses gaan.

Die voorval het glo uit ’n beweerde liefdesdriehoek ontstaan.

Lede van die Jacobs-familie het vandag buite die hof aan die media gesê dit is frustrerend dat die saak maand ná maand uitgestel word. Hulle het egter verkies om geen verdere kommentaar te lewer nie. Wantza het sy persoonlike wapen, ‘n 9 mm-Glock-pistool, gebruik om op Jacobs, Gallant en ‘n derde slagoffer, haar vriendin, te skiet. Gallant is glo van Bishop Lavis op die Kaapse Vlakte.

Moordsaak teen oud-speurder Wayne Wantza weer uitgestel tot 18 Mei terwyl hof steeds wag op uitstaande Valkenberg psigiatriese verslag.
Petrus Jacobs (49). Foto: Argief

In ‘n vorige hofverskyning het dit aan die lig gekom dat Wantza as speurder ernstige en gewelddadige misdade, insluitend bendeverwante sake, ondersoek het.

Hy was ‘n sersant en verbonde aan die Kleinvlei-polisiekantoor en volgens die klagstaat het hy ook in Kleinvlei gewoon.

LEES OOK: Oud-speurder wag op plek in Valkenberg

Jacobs, oorspronklik van die Paarl, het by Metrorail in die Paarl gewerk.

Kapt. FC van Wyk, ‘n woordvoerder van die Wes-Kaapse-polisie het voorheen bevestig dat Wantza nie meer polisieman is nie en dat hy voor sy dissiplinêre proses uit die polisie bedank het.

In ’n vroeëre hofverskyning het die verdediging, André Brown van André Brown Attorneys, aangedui dat hulle moontlik sal argumenteer dat Wantza ten tyde van die voorval nie strafregtelik toerekeningsvatbaar was nie, wat die behoefte aan ’n volledige psigiatriese evaluasie beklemtoon.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article