Ralph Cuttings, beter bekend as ‘Meneer Atletiek’, het Saterdag (24 Oktober) sy laaste skoot op die atletiekbaan van Liebenberg Primêr in Wesbank, Malmesbury, by die St. Thomas Primêre skool se Atletiekfees 2026 afgevuur.
Dié jaarlikse atletiekfees het hierdie jaar 17 skole vanuit die Weskus, Swartland, Atlantis, Boland en SWD gelok.
Cuttings, ‘n man van min woorde, maar iemand wat sy ding op die atletiekbaan en in die klaskamer doen, sal gewis by St.Thomas gemis word, want hy tree ná 38 jaar uit die onderwys. Vir Cuttings, wat ‘n liefde vir atletiek oor die jare ontwikkel en atletiek byeenkomste vir St. Thomas beheer het, sal sy leemte en aspirasie wat hy aan die atlete en gemeenskap gewy het, gevoel word wanneer hy nie meer die afsitwerk op die atletiekbaan doen nie.
By die geleentheid is Cuttings die geleentheid gegun om die finale wedloop van die o.13-seuns-aflos af te sit toe hy sy laaste skoot geskiet het – op die atletiekbaan van Liebenberg Primêr.
Die deelnemende skole was St. Thomas, Liebenberg, Saxonsea, Reygersdal, Berzelia, Langebaan, St. Michaels (Grabouw), Hillcrest, Alpha, Kerria,Meiring, PW De Bruin, Noordhoek, Morrisdale, Winsley, Laurie Hugo en Weltevreden.
Cuttings bedank al die skole en die gemeenskap wat die St. Thomas-atletiekfees bygewoon het. Hy het ook die borge, die departement van sport en kultuur (DCAS), Finbond, Talisman, skole, mediese personeel en ander skenkers bedank wat die atletiekfees suksesvol gemaak het.
Cuttings se liefde vir atletiek en sy bydrae tot die ontwikkeling van die sport in die dorp sal lank deur St. Thomas en omliggende skole onthou word vir sy positiewe bydrae tot skole-atletiek en die gemeenskap.





