Vir Abbotsdale, Daisies en Wesbank was hul tweede groepwedstryde in die SBT12 en Super 8 van kardinale belang.
‘n Verloor vir die spanne sou beteken hul deelname vorentoe gaan al strawwer word. Daisies het Mamre op tuisbodem gepak, terwyl Wesbank na Bolandpark, Worcester, gereis het waar hulle die tuisspan aangedurf het. Lillies was die gasheer vir Roses United, wat op hul stukke is.
Die wedstryd op die Mamre-sportterrein het teen ‘n vinnige pas afgeskop toe die tuisspan se Donique Jacobs ná net vyf minute gaan druk en die drie deur Ronica Moses verdoel is (7-0). Daisies het met goeie tydsberekening van ‘n losskrum af deur die voorspelers teruggeslaan en gaan druk om die telling 7-5 te maak.
Tereska Kabuika se spoed het weer eens gewys wanneer sy die bal onder die blad sit, sy nie maklik gestuit word nie en sy het langs die pale afgerond, met Ronika Moses wat verdoel het (rustydtelling 14-5).
Die tweede helfte het Mamre Daisies behoorlik laat les opsê toe Kabuika en Jacobs ‘n tweekuns behaal het, terwyl Moses die telling met ‘n pragdrie langs die pale tot 33-5 in Mamre se guns aangestoot het. Daisies se spel in die laaste 10 minute van die wedstryd het weer opgevlam toe hulle vanaf ‘n strafskop in Mamre se 22 m-gebied gedryf en gaan druk het. Ongelukkig was die doelskop mis en die telling het op 33-10 gestaan.
Donique Jacobs het die wedstryd met ‘n pragtige lopie onder die pale afgerond, waarna Moses dié verdoel het om die eindtelling 40-10 te maak.
Vir die Daisies was dit weens te veel ongedwonge foute nie ‘n goeie wedstryd nie. Hulle sal daadwerklik daaraan moet werk, want die voorloper, Walkerbay Dames, wag vir hulle eerskomende naweek in Hermanus.
Mamre speel ook hul laaste wedstryd teen Warriors en sal alles in sy vermoë doen om te wen om tweede te eindig, wat hulle ‘n halfeindstrydplek sal verseker.
Sanlam-Boland-Top-12
Abbotsdale, wat verlede week ‘n swak begin in die die eerste ronde van die Sanlam-Boland (SBT12) teen Hawston gemaak het, het Roses United van Wellington op Lilliepark gepak. Vir Lillies was die wedstryd van groot belang wat sy deelname verder in die kompetisie sal bepaal.
Die span het ook nie sy tuisskare teleurgestel nie toe Godwin Jacobs deurbreek sonder dat ‘n hand op hom gelê word en die eerste drie agter die pale afgerond het, waarna Persual Abdol twee punte bygevoeg het om die telling 7-0 te maak.
Twaalf minute later het die agtsteman, Aldo Lendoor, vanaf ‘n vasteskrum in Roses se halfgebied weggebreek en Rheinhart Adonis gevoer, wat langs die pale afgerond en deur Abdol verdoel is om die telling na 14-0 verander.
Skepdoel vergroot voorsprong
‘n Skepdoel deur Abdol het Lillies se toeskouers opgewonde gemaak toe die tuisspan ná 20 minute met 17-0 voorgeloop het.
Roses het egter vinnig teruggeslaan met twee verdoelde drieë om die rustydtelling na 14-17 te verander. Beide spanne het die skare met pragrugby vermaak toe elk ‘n verdoelde drie behaal het, wat die telling op 24-21 in Lillies se guns gebring het.
Lillies het Roses in staat gestel om die laaste 15 minute beheer van wedstryd te neem as gevolg van foute wat hulle die wedstryd gekos het. ‘n Verdoelde en onverdoelde drie het Roses met 33-24 voorgeplaas. Roses het weer eens Lillies gewys dat jy jou kanse in die SBT12 moet gebruik toe hy twee vinnige drieë in die laaste 20 minute behaal het, wat hulle die wedstryd laat wen het. Die pad word nou al steiler vir Lillies, want dit beteken dat hy al drie sy oorblywende wedstryde moet wen en hoop die voorlopers verloor, wat in hierdie stadium onmoontlik lyk.
Wesbank het ook sy kanse teen Worcester Villagers weggegooi nadat hulle die tuisspan op Bolandpark in Worcester harde bene laat kou het. Die Koringare, wat baie beter as verlede week gevaar het, het weer eens in die laaste fase uitgesak toe dit saak maak en Villagers terug in die wedstryd laat kom.
Met die verdedigende kampioen, Saldanhabaai, wat eerskomende naweek besoek op Wesbank kom aflê, gaan dit nog ‘n harde wedstryd wees, en Wesbank kan nie bekostig om droog te maak nie. Dit is nog nie verlore vir hulle nie, maar dan sal hulle hul kanse moet benut en ook hul spel en verdediging, wat hulle in die twee wedstryde benadeel het, moet opknap.
Uitslae
Vredenburg 36-28 Robertson town, Abbotsdale 24-33 Roses United, Delicious NW 29-38 Hawston, Worcester Villagers 28-26 Wesbank, Bella vista 20-24 Saldanhabaai, Safcol United 92-15 Invincible
Wedstrydbepalings vir 31 Oktober
15:00 – Hawston t. Vredenburg, Wesbank t. Saldanhabaai t. Bella Vista t. Safcol United.
17:00 – Robertson Town t. Roses United, Abbotsdale t. Delicious NW, Invincible t. Worcester Villagers
LEES OOK: Let’s praat about it: Bokkies are back and URC derbies are firing!


