Pa wat drie biologiese dogters verkrag word lewenslange tronkstraf opgelê

hofuitspraak Malmesbury-verkragtingsaak
Die pa wat sy drie dogters seksueel voorberei en verkrag het, is Dinsdag (21 Julie) tot lewenslange gevangenisstraf gevonnis.

Pa wat drie biologiese dogters verkrag word lewenslange tronkstraf opgelê

hofuitspraak Malmesbury-verkragtingsaak
Die pa wat sy drie dogters seksueel voorberei en verkrag het, is Dinsdag (21 Julie) tot lewenslange gevangenisstraf gevonnis.

Die hofsaak van die pa (51) wat sy drie biologiese dogters tussen die ouderdom van vier en ses jaar tot en met 12-jarige ouderdom seksueel voorberei en verkrag het, het Dinsdag (21 Julie) ná meer as vyf jaar in Malmesbury tot ‘n einde gekom.

Die beskuldigde is op aanklagte een, twee en drie van verkragting elk tot lewenslange gevangenisstraf gevonnis. Die vonnisse op aanklagte twee en drie sal saamloop met die vonnis op aanklag een, met die gevolg dat slegs een lewenslange gevangenisstraf uitgedien sal word.

Die familie van die slagoffers het mekaar buite die Malmesbury-landdroshof omhels, kort ná die vonnisoplegging van die pa wat volgens regter Phakama Madinda lewenslange trauma en onsigbare letsels deur sy dade veroorsaak het.

Dit was volgens die regter belangrik vir die hof om ‘n balans tussen die erns van die misdaad, die persoonlike omstandighede van die oortreder, die belange van die slagoffers en die belange van die gemeenskap en die samelewing met betrekking tot die vonnisoplegging te vind.

Die beskuldigde het vroeër vanjaar, op 20 April, by monde van sy prokureur berou getoon, sy dogters om vergifnis gevra, maar herhaal hoe hy self as kind gemolesteer is, tans intensiewe terapie ondergaan en niemand meer in sy lewe oorhet nie.

Die hof het verder die aanbevelings rakende die rehabilitasieprogramme in die korrektiewe sentrum, gemaak deur die sielkundige, die psigiater en die maatskaplike werker betrokke, met die vonnisoplegging oorweeg. “Terwyl die beskuldigde uit die samelewing verwyder sal word, sal hy ook behandeling ontvang. Daarom is die hof nie nalatig wat die beskuldigde se sielkundige en geestelike behoeftes betref nie. So baie soos wat die hof moet fokus op hoe die beskuldigde gehelp kan word, moet die slagoffers en die publiek in die algemeen in ag geneem word.”

Die man, wie se saak in die Malmesbury-streekshof gedien het, het aanvanklik probeer aanvoer dat sy brein tydens die voorvalle “afgeskakel” het. Psigiatriese verslae van die Valkenberg-psigiatriese hospitaal het egter bevind dat sy berou oppervlakkig was en dat hy sy dade probeer verminder het. “Daar is in die verslae aangedui dat die beskuldigde nie sy aksies kon beheer nie en ná die oortredings skuldig oor sy dade gevoel het. Hy het ten tyde die misdaad nodig gehad om sy drange te bevredig en slegs gevoelens gehad of spyt gekry ná die dade gepleeg is,” het regter Madinda Dinsdag in die hof aangevoer.

“Die feit dat die beskuldigde ‘n eerste oortreder is en skuldig gepleit het, het die hof ‘n uitgerekte verhoor gespaar en dit word gewoonlik as ‘n sterk versagtende faktor gesien wat tot ‘n ligter vonnis kan lei. Daarby gesê, is dit die hof se verantwoordelikheid en plig om ‘n vonnis op te lê wat nie negatiewe boodskappe na die gemeenskap, die publiek in die algemeen en die samelewing daarbuite sal uitstuur nie.”

Regter Madinda het verduidelik dat dit daarom belangrik is om die regte boodskap daar te stel, naamlik dat as jy die wet oortree, jy op ‘n gepaste wyse gestraf sal word en so ook die publiek se vertroue in die howe herstel. “Daarom sal die hof nie ‘n gevangenisstraf van korrektiewe toesig oorweeg nie. Niemand is bo die wet verhewe nie.”

Regter Madinda het benadruk dat die vonnisoplegging as ‘n waarskuwing vir soortgelyke seksuele oortreders moet dien, eerder as ‘n gerusstelling dat hulle, sou hul aangekeer word, lig daarvan sal afkom.

Die staat en verdediging het op 20 April hul versagtende en verswarende argumente gele­wer, het Eric Ntabazalila, woordvoerder vir die nasionale vervolgingsgesag gesê. Die drie slagoffers het die hof deur van middel van ‘n impakverslag toegespreek waartydens die langtermyn emosionele en sielkundige gevolge, trauma en skade weens die beskuldigde se dade aangehoor is.

Die beskuldigde het op 17 November 2025 op al drie aanklagte van verkragting skuld beken. Al drie sy dogters was tydens die gebeure minderjarig.

Regter Madinda het tydens die vonnisoplegging herhaal hoe die seksuele misdrywe, wat oor ‘n tydperk van 12 jaar (2008-2020) plaasgevind het, die drie dogters se lewens tot in volwassenheid gevorm en lewenslange trauma veroorsaak het. Elkeen is volgens die pleitverduideliking tussen die ouderdom van vier en ses jaar tot en met 12-jarige ouderdom seksueel voorberei en verkrag.

Volgens regter Madinda het die hof gehoor hoe daar slegs liefde deur die pa ontvang is wanneer hulle seksuele omgang met hom gehad het. “Die kinders het ook nie ‘n idee hoe om te vertrou nie. Die een dogter sê die wangedrag teen haar is veroorsaak deur die man wat sy vertrou het, die man wat veronderstel was om sekuriteit te bied. Daarom beslis die hof dat die belange van die slagoffers betrokke en die belange van die samelewing swaarder weeg as die belange van die beskuldigde.”

Die seksuele misdrywe het onder meer in Malmesbury en Gansbaai plaasgevind.

Die familie en betrokke partye het ‘n sug van verligting geslaak toe die bekuldigde nie bloot onder korrektiewe toesig vrygelaat of ‘n straf in die vorm van gemeenskapsdiens opgelê is nie. Die staat het vir direkte gevangenisstraf gepleit, voeg Ntabazalila by.

Die beskuldigde kan om parool aansoek doen, hoewel parool slegs oorweeg kan word nadat die slagoffers en die families van die slagoffers geraadpleeg is en hul insette in ag geneem is.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article