Die digte mis wat die Swartland, die Boland en omliggende gebiede in die Wes-Kaap die afgelope wintermaande behoorlik omvou, word hoofsaaklik aan ‘n gebrek aan kouefronte toegeskryf.
Só verduidelik die meteoroloog en Vox Weather-aanbieder Annette Botha. Sy is dit eens dat vanjaar gewis een van die mistigste winters in die Wes-Kaap is.
“Die hoofrede is omdat ons baie minder sterk kouefronte gehad het en baie het óf heeltemal suid van die Kaap verbybeweeg óf net die kus liggies geraak,” verduidelik Botha.
Sy meen sterk wind en reën, wat gewoonlik die vog uit die atmosfeer “skoonvee”, was grootliks afwesig.
“Langs die Weskus vorm mis wanneer koel, vogtige lug oor die koue Benguelastroom beweeg. Die lug koel dan af tot by sy doupunt, waarna die waterdamp in fyn waterdruppels kondenseer en mis vorm. Met ligte wind en bestendige weerstoestande kan hierdie mis maklik teen die kus inbeweeg en selfs vroegaand vorm voordat dit oornag verdig.”
Botha sê daarom het inwoners van die Swartland en omliggende Bolandse dorpe die afgelope tyd gereeld mistige oggende én aande ervaar – “ ’n tipiese gevolg van die rustige winterweer wat ons vanjaar beleef.”
Sy voeg by dié rustige weerpatroon is nie juis goeie nuus nie. “Hoewel die mis baie vogtig lyk, dra dit min tot ons waterbronne by. Wat ons nou regtig nodig het, is nog sterk kouefronte wat wydverspreide reën oor die Wes-Kaap bring om damme verder aan te vul en die winterreënseisoen ‘n hupstoot te gee.”
Die Suid-Afrikaanse Weerdiens verduidelik op sy beurt die weerpatroon wyk gewis af van die tipiese gewone en seisoenale weerstoestande.
“Hierdie tyd van die jaar is kouefronte gewoonlik die oorheersende weerstelsels wat die Wes-Kaap beïnvloed. Sedert die begin van die winter het minder kouefronte die provinsie bereik as wat verwag sou word. In plaas daarvan het verskeie hoogdrukstelsels oorheers, wat tot bestendige atmosferiese weerstoestande, ligte en veranderlike wind en die aanhoudende teenwoordigheid van laevlakvog gelei het. Hierdie hoogdrukstelsels is hoofsaaklik verantwoordelik vir die blokkasie van die tipiese kouefrontstelsels wat die Wes-Kaap in die winter ervaar.”
Oral in die wes-kaap
Die weerdiens sê soortgelyke mistige toestande word in verskeie dele van die Wes-Kaap en nie slegs die Swartland en die Boland nie ervaar. Dit sluit die Weskus, die Stad Kaapstad, Overberg en die Tuinroete in.
Die huidige weerstoestande wat gunstig is vir mis, sal na verwagting voortduur namate bestendige atmosferiese toestande, ligte wind en hoë voggehalte in die onderste luglae bly heers. “Dit is dus waarskynlik dat die mis sal bly, veral snags en vroegoggend, met die moontlikheid dat dit op sommige plekke tot laat in die middag of vroegaand kan duur. Die deurgang van die volgende kouefront sal na verwagting atmosferiese vermenging bevorder en die huidige mistige weerstoestande verminder.
“Dit is egter belangrik om daarop te let dat sodra die front verbygetrek het, kan helder lug, ligte wind en hewige afkoeling gedurende die nag weer gunstige toestande vir die vorming van stralingsmis in die vroeë oggendure skep.”
Die weerdiens sê duidelike veranderings in die plaaslike weerpatrone het na gunstige toestande vir mistige dae gelei.
“Die afname in kouefronte het tot langdurige tydperke van bestendige atmosferiese weerstoestande gelei, waar hoëdrukstelsels al meer voorkom. Hierdie toestande gaan gepaard met ligte en veranderlike wind, hoë humiditeit naby die grond en veroorsaak dat vog naby die oppervlak vasgevang bly.”





