Die gure weersomstandighede is besig om grootskaalse verwoesting en chaos in Worcester te saai.
Standard Breederivier Gazette het onder meer inligting ontvang van ‘n kragpaal wat op ‘n motorvoertuig beland het en van nog een wat uit die grond geruk en tans hang oor ‘n woonhuis in Riverview, Worcester.
Die stormsterkwinde lei ook daartoe dat talle bome besig is om die een na die ander te ontwortel waarvan sommige reeds eiendom beskadig het. Die kragtoevoer na sekere woongebiede in Worcester word ook deur die stormsterkwinde geraak.










‘n Gesin van Worcester is tans op hul erf vasgekeer nadat ‘n ontwortelde boom die ingang na hul woning verspêr.
In Luytstraat het ‘n ontwortelde boom die grensmuur by ’n gesin se woning beskadig.
Ook in Kuhnstraat het ‘n boom ontwortel en die grensmuur van ‘n woning beskadig.
Voorts is talle motors beskadig toe die dakplate van ‘n plaaslike sake-onderneming afgewaai het.
Die sinkplaat-omheining van Bolandpark-stadion en die sportgronde in Zweletemba, Worcester het ook in die slag gebly.
Standard Breederivier Gazette het ook verneem dat die dak van Hexpark Primêre Skool en die nuwe koshuisdak by die Nasionale Instituut vir Dowes in Worcester, ook besig is om af te waai.
Inligting is voorts ook ontvang van ’n informele woonstruktuur in Avianpark, Worcester, wat deur die stormsterkwinde platgevee is en van ’n minibus-taxi wat vermoedelik as gevolg van die gure weer ‘n brandkraan getref en toe in ‘n muur vasgery het by ‘n plaaslike vulstasie.

Die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit het vroeër ‘n kennisgewing uitgestuur oor kragonderbrekings in talle gebiede oor die distrik heen. Daarvolgens sit meeste gebiede sonder elektrisiteit as gevolg van ‘n groot ineenstorting van ‘n hoëspanningstoring. Eskom-spanne is besig om daaraan aandag te gee. Hulle het inwoners gevra om hulself voor te berei vir langdurige onderbrekings en krag veilig te gebruik.
Intussen het die Breedevallei-munisipaliteit (BVM) alle vullisverwyderings-operasies en die versameling van herwinningsmateriaal vir vandag (Maandag, 11 Mei) opgeskort, en ook bevestig dat hul kantore vir die res van die dag gesluit sal wees. Noodsaaklike dienste sal operasioneel bly.
Kontak die volgende nommers in geval van nood:
- Cape Winelands: 021 887 4446
- Breedevallei: 0233422430 / 0860121212
- Langeberg: 023 615 8911
- Witzenberg: 023 492 0181 / 2; WhatsApp: 081 896 5480





You must be logged in to post a comment.