KIMBERLEY – In Thapelo Matlala, stadsbestuurder van die Sol Plaatje-munisipaliteit in Kimberley, se suksesvolle aansoek in die hooggeregshof om die dissiplinêre verhoor teen hom ongeldig te laat verklaar, het hy aangevoer slegs die raad kan ‘n dissiplinêre proses teen hom instel, nie ‘n administrateur nie.
Dit volg nadat Bentley Vass, LUR van samewerkende regering, die munisipaliteit onlangs onder omstrede omstandighede onder administrasie geplaas het, ‘n stap waaroor inwoners en sommige opposisiepartye hul teenkanting uitgespreek het.
Bewerings word gemaak dat dié stap aandui dat die ANC sy hande op die stad se geldkoffers voor die plaaslike verkiesing van 4 November wil lê.
LEES OOK: Kimberley se politieke chaos brei uit: Stakings; nog hofsake; vyf uitgeskop
Waarnemende regter Jane Ngubeni het dié bevel op 8 Junie in Matlala se guns uitgereik, die einste dag waarop die verhoor oor substantiewe klagtes teen Matlala sou begin.
Uit hofstukke deur NoordkaapBulletin bekom, blyk dit Matlala het die hof op ‘n dringende basis genader om sy dissiplinêre verhoor onwettig te laat verklaar en ter syde te stel.
Geen ondersoek na beweringe
Sy vernaamste betoë was dat die munisipale raad nooit ’n geldige besluit geneem het dat die beweringe teen hom ernstig genoeg is om ’n ondersoek te regverdig nie, soos vereis deur Regulasie 4 van die Plaaslike Regering: Dissiplinêre Regulasies vir Senior Bestuurders 2010 nie. Dit is uitgevaardig kragtens Artikel 120 van die Wet op Plaaslike Regering: Munisipale Stelsels, 2000.
Dié regulasie vereis die raad moet ‘n formele besluit neem oor of die bewerings van wangedrag teen ‘n senior bestuurder van so ‘n ernstige aard is dat ‘n ondersoek geregverdig is.
Matlala het aangevoer dat die raad nooit so ‘n geldige besluit geneem het nie, wat die res van die dissiplinêre proses onwettig gemaak het.
Kragtens die regulasie moet die raad, as hulle tevrede is dat daar redelike gronde is om wangedrag te vermoed, binne sewe dae ‘n onafhanklike ondersoeker aanstel.
Voorts was die aanstellingsbriewe van die voorsitter (Mabunda Attorneys) en die inisieerders (Kopano Mothibi Attorneys) deur die destydse waarnemende munisipale bestuurder geteken, en nie deur die uitvoerende burgemeester soos die raad se eie besluit vereis het nie.
Die mag om ’n ondersoeker aan te stel berus by die raad alleen en mag nie na ’n eksterne instelling (soos die direkteur-generaal van die provinsie) gedelegeer word nie.
Hy bevraagteken die onpartydigheid van die inisieerders (Kopano Mothibi Attorneys) omdat hulle voorheen vir die munisipaliteit in litigasie teen hom opgetree het.
Enorme regskoste uit eie sak
Matlala het aangevoer hy het enorme regskoste (ongeveer R50 000 per dag) uit sy eie sak betaal en sy reg op waardigheid word deur ‘n onwettige proses geskaad.
In sy antwoordende verklaring het Thomas Mongwe, administrateur en negende respondent, die aansoek teengestaan en namens die munisipaliteit aangevoer die aansoek is voortydig.
Volgens hom kan howe nie in onvoltooide dissiplinêre verrigtinge inmeng nie. Matlala moet wag vir die uitkoms van die verhoor voordat hy die hof nader.
LEES OOK: Sol Plaatje-munisipaliteit amptelik onder administrasie; nog ‘n regstryd wag
Matlala het reeds in Februarie/Maart vanjaar van die beweerde onreëlmatighede geweet, maar eers in Mei die hof genader nadat sy regspunte in limine by die dissiplinêre verhoor misluk het.
Al het die waarnemende munisipale bestuurder die briewe geteken, het die burgemeester dit goedgekeur en die munisipaliteit die aanstellings deur hul optrede bekragtig. Dat die waarnemende munisipale bestuurder geteken het, was ‘n administratiewe handeling wat op instruksie en met goedkeuring van die burgemeester geskied het.
Die munisipaliteit is onder provinsiale administrasie (Artikel 139) weens wanbestuur, en dit is in die openbare belang om die dissiplinêre proses teen die munisipale bestuurder te voltooi.
Hy het ook aangevoer dat die prokureur nie onpartydig hoef te wees nie, omdat hulle slegs die werkgewer se saak voordra. Hy voer aan dat howe normaalweg nie in onvoltooide dissiplinêre verrigtinge inmeng nie. Matlala het volgens hom voldoende regsmiddels ná die verhoor, soos ‘n hersieningsaansoek of ‘n aansoek by die Bedingingsraad.
Dringendheid nie self geskep
Matlala het in sy antwoord ontken die dringendheid is selfgeskep. Hy het aangevoer hy het eers die interne proses (punte in limine) probeer gebruik om litigasie te vermy, maar die voorsitter het beslis hy het nie jurisdiksie om oor die wettigheid van sy eie aanstelling te besluit nie.
Matlala het volgehou ’n onwettige proses kan nie deur latere optrede “bekragtig” word nie.
In die hofbevel het die regter gelas die saak is dringend, en het die dissiplinêre verhoor onwettig verklaar en dit ter syde gestel. Die aanstelling van die vyfde tot agtste respondente (prokureurs en advokate) as voorsitters en inisieerders is onwettig en word ter syde gestel want hul verteenwoordiging van die munisipale raad is ongeldig.
Die administrateur moet die regskoste van die aansoek betaal.
LEES OOK: Kimberley se politieke chaos brei uit: Stakings; nog hofsake; vyf uitgeskop






