KIMBERLEY – Die verhoor van George Peters (Barney) en 14 ander is Maandag 12 Oktober in die hooggeregshof in Kimberley na Woensdag uitgestel nadat Peters, vermeende bendeleier wat homself verteenwoordig, nie vrae in kruisondervraging aan een van die staatsgetuies wou stel het nie.
Peters en sy medebeskuldigdes word gesamentlik of afsonderlik verdink dat hulle by etlike bendeverwante voorvalle van Augustus 2020 tot Februarie 2023 in Kimberley en Kuruman betrokke was. Hulle het glo geld uit dwelmhandel gemaak. Die vroue is glo as dwelmmuile gebruik. Die 117 aanklagte sluit onder meer moord, poging tot moord, bedrog, ontvoering, verkragting, en geldwassery in.
Sy mede-aangeklaagdes is Britney Arends, Stephanie Mcanda, Simone Rose, Chinaaz Mentoor, Abagail van Wyk, Chane Adams, Michael Peters, Clive Peters, Deon May, Parmeston Mentoor, Henry Blom, Vincent Rosen, Tshepo Malambi, Nico Hofuza en Shawn Smith. Van hulle is Peters se broers, eertydse en huidige houvroue en vermeende makkers.
LEES OOK: ‘Barney’ soek staat se ‘grootste getuies’ om vrae aan hulle te stel ‘soos hy wil’
Wil staatsgetuie se ‘hare uittrek’
ʼn Staatsgetuie wat sedert Julie in die getuiebank is en nie geïdentifiseer mag word nie, was een van sy vroue.
Peters wat al verskeie regsverteenwoordigers afgedank het, het aan Regter Almé Stanton gesê hy wil vrae aan die getuie “met sy hele hart” stel en “haar hare uittrek”, maar het toe nie met sy kruisondervraging begin nie. Die regter het hom etlike kere gevra of hy nie sy weergawe aan die getuie gaan stel nie, maar hy het nie. Hy het vroeër in die deelsverhoor ook nie vrae aan ander getuies gestel nie.
Sy jongste eis is dat die “korrupte” polisiemanne waarna vingers in die getuienis gewys is, ook aangekla word.
LEES OOK: Bendeleier ‘Barney’ sê hy is ‘n ‘rolmodel, onskuldig’ en ‘het geen tatoeërmerke’
‘Barney’ voer ‘skrikbewind’
Die betrokke staatsgetuie het vroeër vertel van die skaduwêreld van die “Hollanders”-misdaadbende en Peters se beweerde “skrikbewind” as leier. Die getuie, wat ingevolge Artikel 204 van die Strafproseswet getuig, het reeds strawwe kruisondervraging van die ander beskuldigdes se verteenwoordigers deurloop oor haar weergawe van die misdade.
Peters se vroue is volgens haar nie toegelaat om met ander mans te praat nie. Sy opdragte moes soos die opperste wet gehoorsaam word. Peters wou uiteindelik glo 27 vroue hê. Die lede van die groep het spesifieke handgebare gemaak, soos die 27-teken en ‘n handgebaar vir die getal 7, om hul onderdanigheid te toon.
Die hof het gehoor dat veral vrouelede van die groep onderwerp is aan uiterste fisieke geweld waarin slagoffers geslaan is tot hulle bloei wanneer Barney vermoed het iemand lieg of gehoorsaam hom nie. Een van die vroue is glo so erg aangerand dat haar been in gips geplaas is.
Die vrou het getuig sy sou dit nooit waag om ongehoorsaam te wees nie.
Volgens die getuienis is van die vroue in die groep gedwing om spesifieke tatoeëermerke soos “Barney’s Property” , “27” of “King Barney” op mekaar aan te bring. Sy het dit nie vrywillig gedoen nie, maar uit vrees. Die tatoeëringsproses was uiters pynlik. Peters sou glo by tye self die tatoeërmasjien gebruik het.
Volgens die getuie is nog ʼn vrou se gesig deur Barney in ‘n skottel met warm water gedruk. Barney het die vroue geslaan en gedreig dat hy hulle met hamers sal slaan en of dat hy hulle sal “regsien”.
LEES OOK: Barney bekla sy lot in hof oor ‘opgemaakte stories van getuies’
Moordplanne beraam
Die getuie sê Peters het na bewering beplan om sy aartsvyand Roger Johnson te vermoor. Sy is beveel om op ʼn keer Johnson se borgtogaansoek in die landdroshof dop te hou. Die opdrag was om Johnson voor die hofgebou te skiet indien hy borgtog kry; daarna moes die skieter haarself aan die polisie oorgee.
Daar was ook beplanning in die teenwoordigheid van sowat agt tot tien mense in Peters se huis in Cartersweg, Kimberley, om glo ʼn vrou te skiet omdat sy die ander vroue teen Peters beïnvloed het. Peters sou glo beveel dat die vrou in haar nek gesteek moet word sodat sy doodbloei.
Die getuie was nie teenwoordig toe dié betrokke slagoffer op 11 Julie 2021 vermoor is nie.
Volgens die getuie was Peters die grootste dwelmhandelaar in Kimberley. Die vroue moes dwelms op straathoeke verkoop, maar al die geld aan Barney oorhandig sonder om enige loon of kommissie te ontvang. Hy het ook versekeringspolisse op een van die vroue-slagoffers se lewe vir geldelike gewin uitgeneem.
Van die vroue het ná hul inhegtenisneming byna vier jaar gelede besluit om die waarheid te praat, hulself van Peters te distansieer en staatsgetuies te word.





