Christina “Stienie” Vorster, ‘n glanspersoonlikheid van Robari Lodge in Somerset-Wes, het Vrydag (10 Julie) nóg ‘n goue mylpaal met ongeëwenaarde grasie en styl gevier.
As ‘n mens na Tannie Stienie kyk, sou jy nooit raai sy is 104 jaar oud nie – sy lyk nie ‘n dag ouer as 85 nie. Haar helder oë straal lewenslus uit en haar houding weerspieël grasie en waardigheid. Sy is met haar glashelder geheue en ‘n sprankelende gees die toonbeeld van tydlose elegansie.
Merkwaardige mylpaal
Sy deel haar lewensverhaal met warmte en nostalgie. Sy het op ‘n gemengde-boerdery-plaas in die Vredenburg-distrik grootgeword, waar sy as een van sewe kinders en die oudste van drie susters ‘n hegte band met haar broer gehad het.
“Ons het alles saam gedoen,” onthou sy. “Ek het nie pop gespeel nie, maar buite gespeel – rock climbing op groot granietrotse. Ons het die lewe regtig geniet.”

Kosbare herinneringe
Sy het haar skoolloopbaan by ‘n plaasskool op Skuitjiesklip-plaas begin en later standerd 6 by ‘n ander skool voltooi. Sy het in 1939 aan die Hoërskool Vredenburg gematrikuleer – dieselfde jaar wat die Tweede Wêreldoorlog verklaar is. Daarna het sy in 1940 na ‘n opleidingskool in die Paarl gegaan en is as onderwyseres opgelei. Sy het haar loopbaan op Garries begin deur sub-A en sub-B-leerders in een jaar te onderrig en later by Goodwood Preparatory School gewerk.
In 1947 het sy ‘n belangrike mylpaal beleef toe sy die aankoms en vertrek van die Britse koninklike familie in Kaapstad bygewoon het.
“Dit was ‘n groot gebeurtenis,” vertel sy. “Die rooitapyt het van die hawe tot by Adderleystraat gestrek, met houtstellasies aan weerskante, waar mense gesit het.”
Sy is daardie jaar met haar man, Ben Vorster, getroud en het in Discovery, Johannesburg, gaan woon. Hulle het drie kinders grootgemaak – ‘n oudste seun en ‘n tweeling, ‘n seun en dogter.
Ná haar man se afsterwe in 1999 het sy in 2000 na Somerset-Wes verhuis, waar sy eers in Swanack Gardens en later in Robari Lodge gewoon het.
LEES OOK: “Tannie Christina vier 100ste verjaardag,” DistriksPos, 13 Julie 2022.
Onwrikbare geloof
Tannie Stienie se onlangse verjaarsdagviering was ‘n deftige affêre. “Die lokaal was pragtig in ‘n swart-en-wit tema versier en die spyskaart was amper net Frans,” vertel sy met ‘n glimlag. “Terwyl ons geëet het, het ‘n jongman viool gespeel. Dit was perfek.” Die bestuurder van die tehuis het haar met ‘n pragtige bos blomme en ‘n kaartjie verras en die vieringe het Saterdag (11 Julie) voortgegaan met familie en vriende by Sage & Thyme.
“Geloof in God,” sê sy. “Hy reël alles en sorg vir ons dag ná dag. Ek het nooit gedink ek sou hierdie verjaardag sien nie.”
In 2016 was sy ernstig siek en het sewe weke in die hospitaal deurgebring. “Ek moes weer leer loop, maar ek leef nou net vir die dag wat die Vader my gee. Elke dag is ‘n geskenk.”




