Die Stad Kaapstad het uiteindelik gereageer op kommer oor ‘n oop riooldrein in Broadlandspark, Strand, wat steeds onopgelos bly. Dit is ten spyte van verskeie en herhaalde klagtes. Hierdie klagtes is oor weke heen aangemeld.
‘n Inwoner het haar tot die koerant gewend en haar frustrasie uitgespreek. Dit was nadat haar 63-jarige broer op Dinsdag 16 Junie in ‘n oop drein naby die hoek van Bosduif- en Finkweg, oorkant die gemeenskapsaal, geval het. Die voorval het plaasgevind nadat swaar reën die dreindeksel losge-
spoel het, wat veroorsaak het dat sand opgehoop en die oop mangat verberg is. Dié pensioentrekker het die sand vir vaste grond aangesien en daarin geval terwyl hy huis toe gestap het.

“Uit skok het hy onmiddellik huis toe gegaan,” sê die inwoner, wat die probleem namens haar broer met foto’s by die plaaslike raadslid aangemeld het. “Benewens ‘n seer lyf het hy gelukkig geen ernstige beserings opgedoen nie, maar hy besoek nou meer gereeld die daghospitaal.”
Die inwoner het verder haar kommer uitgespreek oor die veiligheid van ander inwoners en voertuie wat moontlik skade kan opdoen. “Rioolwater spoel gereeld uit dié drein, wat dit ‘n volgehoue probleem vir die gemeenskap maak.”
Sy het ook genoem hoewel sy die probleem verskeie kere aangemeld het, het die Stad eers weke later – op Vrydag 10 Julie – werkers uitgestuur om die probleem op te los. Die deksel is weer opgesit en die gemors is uit die drein verwyder. Maar dit is net daar gelos. Verder, teen Maandag (13 Julie) het die drein weer rioolwater in die strate uitgespoel. Daarop het die Stad eers laatmiddag gereageer. “Dit blyk daar is werklik ‘n groter probleem waaruit hierdie situasie spruit,” meen die inwoner.

Kontrakteur nou aangestel
Die Stad se burgemeesterskomiteelid vir water en sanitasie, Zahid Badroodien, het bevestig die veiligheid van inwoners bly ‘n prioriteit. Daarbenewens word stappe geneem om die ontbrekende mangatdeksel te vervang. Verder word die geassosieerde rioolinfrastruktuur aan te durf. “Die riooloorlope is veroorsaak deur ongereinigde sandvangers in die gebied, en ‘n kontrakteur is aangestel om onmiddellik met die skoonmaak te begin,” het Badroodien gesê.
Hy het verduidelik geblokkeerde riole, dikwels veroorsaak deur sand en vreemde voorwerpe, kan lei tot rioolwater wat styg en mangatdeksels losdruk. Daarbenewens vererger stormwater, wat tydens swaar reën in die rioolnetwerk invloei, die probleem. Dit plaas die rioolkapasiteit onder druk en mangatdeksels word gelig.
Proaktiewe skoonmaak van rioolpype en sandvangers word deur die jaar uitgevoer, met verskerpte pogings voor die winter.
Om soortgelyke voorvalle te voorkom, betrek die Stad die gemeenskap deur opvoedingsinisiatiewe om bewustheid te skep oor behoorlike rioolgebruik. Daarbenewens beklemtoon hulle die belangrikheid daarvan om nie vreemde voorwerpe in die stelsel te laat beland nie.
Inwoners word aangemoedig om riooloorlope of blokkasies via die Stad se kommunikasiekanale aan te meld, WhatsApp, e-pos en die Stad se webwerf.
Vir inwoners wat vergoeding eis vir mediese of ander koste wat met sulke voorvalle verband hou, beveel die Stad aan om ‘n openbare-aanspreeklikheid-eisvorm in te dien. Voeg asseblief ondersteunende dokumente soos fakture, mediese rekords en foto’s van die ligging van die voorval by.
Elke eis word op sy eie meriete beoordeel en ‘n verwysingsnommer sal verskaf word vir opvolg.





