’n Graad 1-leerder van Leeuwenhof Akademie in Bedfordview, Vaughn Gerber, het onlangs koning gekraai. Hy het aan die provinsiale Sanlam WOW Spelfees deelgeneem. Vaughn het teen 30 Gr. 1-leerders van verskillende Gautengse skole meegeding en met ’n indrukwekkende eerste plek weggestap.
Die WOW Spelfees is ’n gesogte kompetisie wat jong leerders aanmoedig om hul spelvaardighede te slyp en selfvertroue in Afrikaans te bou. Vaughn se prestasie is ’n bewys van sy harde werk, toewyding en liefde vir taal.
’n Groot mylpaal
Met sy oorwinning het Vaughn ’n plek verseker by die Nasionale Spelfees wat in Oktober in Stellenbosch plaasvind. Hierdie geleentheid bring die beste spellers van regoor Suid-Afrika bymekaar. Dit bied ’n unieke kans aan die leerders om hul talent op nasionale vlak te toets.
Trots vir Leeuwenhof
Die skoolgemeenskap is uiters trots op Vaughn se prestasie. Hierdie uitsonderlike prestasie is die vrug van sy harde werk en voortreflike toewyding.
Leeuwenhof Akademie hou styf duime vas vir Vaughn se deelname aan die nasionale kompetisie en glo dat hy met dieselfde vasberadenheid en passie sal uitblink.
Foto verskaf






