Nuwe Skoolhoof. Hoërskool Witteberg het met trots die aanstelling van mnr. P.W. van Aswegen as nuwe skoolhoof aangekondig. Hy begin sy termyn op 1 September 2026. Mnr. van Aswegen was voorheen die skoolhoof van die Hoër Volkskool Potchefstroom.
Sy aanstelling beteken ’n nuwe hoofstuk vir ’n skool wat bekend is vir akademiese uitnemendheid, leerderontwikkeling en ’n sterk waardestelsel.
Mnr. van Aswegen bring jare se onderwyservaring en bewese leierskap na die pos. Hy fokus op gebalanseerde leerderontwikkeling, ouer- en gemeenskapsbetrokkenheid, en ’n Christelike waardestelsel. Die beheerliggaam en personeel sien daarna uit om saam met hom voort te bou op Witteberg se gevestigde fondament.
Volgens mnr. Thinus Grobler, voorsitter van die beheerliggaam, volg die aanstelling ná ’n deeglike keuringsproses. “Ons is dankbaar en opgewonde om mnr. van Aswegen en sy gesin by Witteberg en Bethlehem te verwelkom. Sy kundigheid, visie en passie vir mense sal ’n groot bydrae lewer tot die skool se groei,” sê Grobler.
Mnr. van Aswegen sê oor sy aanstelling: “Dit is vir my en my gesin ’n groot voorreg om deel te word van die Witteberg-familie. Ek sien daarna uit om elkeen te ontmoet en saam te werk, sodat hierdie dinamiese skool ’n nalatenskap kan bou waarin toekomstige geslagte met trots sal volg.”
Hoërskool Witteberg bly verbind tot sy missie: “Om van elke kind ’n Meesterstuk te maak.” Die beheerliggaam, personeel en gemeenskap wens mnr. van Aswegen sterkte toe in sy nuwe rol.





