BLOEMFONTEIN – Nuwe Hoof. Grey Kollege Sekondêr het aangekondig dat mnr. Jurie Geldenhuys op 1 Januarie 2027 as die skool se nuwe hoof sal oorneem.
Mnr. Geldenhuys sal die 15de hoof van die gesogte seunskool wees sedert die stigting daarvan in 1855. Hy volg mnr. Braam van Wyk op, wat aan die einde van 2026 aftree.
Hy dien sedert 2015 as hoof van Grey Kollege Primêr. Volgens die Grey Kollege-skoolbeheerliggaam verseker sy aanstelling die voortsetting van die skool se sterk tradisies, waardes en opvoedkundige nalatenskap.
Die voorsitter van die skoolbeheerliggaam, mnr. Jan Harm Greyling, het gesê volhoubare leierskap en kontinuïteit is van groot belang vir Grey se toekoms. Hy meen mnr. Geldenhuys bring uitgebreide kennis van die Grey-gemeenskap en die onderwyssektor na sy nuwe rol.
Die beheerliggaam het ook sy tevredenheid uitgespreek oor die deursigtige wyse waarop die aanstellingsproses hanteer is. Die skool se etos en waardes het deurgaans die rigting van die proses bepaal.
Mnr. Jurie Geldenhuys se loopbaan in die onderwys het in 1992 begin. Oor meer as drie dekades het hy ervaring opgedoen by verskeie skole regoor Suid-Afrika. Meer as 20 van dié jare was in skoolhoofposisies.
Akademiese betrokkenheid
Benewens sy akademiese betrokkenheid het hy ook op die gebied van skolesport en kultuur waardevolle bydraes gelewer. Hierdie wye ervaring strook met Grey Kollege se doel om jong manne toe te rus vir ‘n betekenisvolle rol in die samelewing.
Mnr. Geldenhuys beskryf sy aanstelling as die voltooiing van ‘n besonderse loopbaanreis. Nadat hy jare lank deel van Grey Kollege Primêr was, sien hy daarna uit om nou ook die hoërskoolgemeenskap te dien.
Hy sê sy fokus sal wees om die skool se trotse geskiedenis te eer, terwyl daar terselfdertyd voorsiening gemaak word vir die uitdagings en geleenthede van die toekoms.
Die proses om ‘n nuwe hoof vir Grey Kollege Primêr aan te stel, sal binnekort begin.
https://greycollegesecondary.com/
Foto verskaf






