Tydens die Merensky Hokkiefees, wat van 27 tot 30 Maart 2026 plaasgevind het, is drie van Monties se hokkietalent en sterspelers – Lara de Bruin, Mariaan Ebersohn en Latika Liebenberg – gekies om Suid-Afrika tydens ’n hokkietoer na Nederland te verteenwoordig.
Die toer vind plaas van 28 September tot 6 Oktober 2026. Dit bied aan hierdie talentvolle spelers die unieke geleentheid om teen top Nederlandse hokkieklubs mee te ding. Hulle sal ook wêreldklas-afrigtingsklinieke bywoon en ’n professionele Hoofdklasse-hokkiewedstryd te ervaar. Hierdie is die hoogste vlak van veldhokkiekompetisie in Nederland. Dit is waar die beste 12 mans- en 12 damesklubs jaarliks meeding om die landskampioenskap. Dit is ’n professionele liga wat bekendstaan vir sy vinnige, tegniese spel en groot invloed op Europese en wêreldhokkie.
Hierdie keuring is ’n besondere prestasie vir Monties se hokkietalent en ’n welverdiende erkenning van hul harde werk, talent en passie vir hokkie. Hoërskool Montana, Pretoria, is uiters trots op Lara, Mariaan en Latika en wens hulle alle sukses toe met hierdie internasionale geleentheid.
“Mag julle die ervaring geniet, elke oomblik op die Nederlandse hokkieveld aangryp en die Monties se naam met trots uitdra.”
Foto verskaf






