KRUGERSDORP – GeeExpo. Sewe leerders van Hoërskool Noordheuwel hul deelgeneem aan die jaarlikse GeeExpo. Dit het plaasgevind op 10 Oktober aan die Noordwes-Universiteit (NWU) se Vaaldriehoekkampus in Vanderbijlpark. Hulle het hul talent en tegniese vaardighede tydens die jaarlikse GeeExpo ten toon gestel.
Die groep wat deelgeneem het, het bestaan uit:
- Philip Crous,
- Xander de Villiers,
- Nathan Pieterse,
- Llewellyn Rautenbach,
- Reuven Aucamp,
- Paige Horne en
- Zandri Basson.
Hierdie leerders het aan verskeie aktiwiteite deelgeneem wat gefokus het op inligtingstegnologie, robotika en probleemoplossing.

Tydens die ekspo het leerders die geleentheid gekry om hul IT- en robotikaprojekte aan beoordelaars en mede-deelnemers voor te lê. Hulle het ook aan ’n uitdagende wiskundekompetisie deelgeneem. Noordheuwel se span het besonder goed gevaar en ’n derde plek in die Wiskunde-uitdaging behaal.
Die skool se grootste sukses was egter in die robotikakompetisie, waar Noordheuwel beide die eerste- en tweede plek verower het. Die bekroonde projekte was ’n Quick Response-projek en ’n AI RobotFace-projek. Hierdie projek het die leerders se gevorderde programmeringskennis, kreatiewe denke en vernuwende probleemoplossingsvermoë beklemtoon.
Volgens die skool is die prestasies ’n bewys van die toewyding en harde werk wat die leerders in die ontwikkeling van hul tegnologiese vaardighede belê. Die kompetisie het nie net ’n platform geskep om kennis toe te pas nie, maar het ook geleenthede gebied om met ander jong innoveerders en tegnologie-entoesiaste kennis uit te ruil.
Hoërskool Noordheuwel het die leerders gelukgewens met hul uitstekende prestasies en die professionele wyse waarop hulle die skool verteenwoordig het. Hul sukses dien as inspirasie vir ander jongmense om hul belangstelling in wetenskap, tegnologie en innovasie verder te ontwikkel.
Foto’s verskaf







You must be logged in to post a comment.