Naboomspruit, Limpopo – Hoërskool Hans Strijdom vier met trots die besonderse prestasie van Mieke Oelofse. Sy is ’n talentvolle o.15-netbalspeler wat haarself as een van die land se opkomende snelbalsterre gevestig het.
Tydens die onlangse Somerweek-toernooi is Mieke, ondanks haar jong ouderdom, na die o.17 Verre-Noord Netbal Snelbalspan opgetrek. Sy het nie net uitstekend presteer teen ouer spelers nie, maar is ook aangewys as Verre-Noord se Speler van die Toernooi. Dit is ’n uitsonderlike eer wat haar harde werk, talent en toewyding beklemtoon.
Mieke Oelofse se indrukwekkende vertonings het verder daartoe gelei dat sy genooi is om vir die Nasionale o.17 Bokkiespan proewe te speel. Ná die keuringsproses is sy suksesvol vir die span gekies. Sy sal sy vanaf 29 November tot 6 Desember saam met die span ‘n toer onderneem na Katar. Die span gaan aan verskeie wedstryde en ’n internasionale toernooi deelneem.
Om as ’n o.15-speler op hierdie vlak erkenning te ontvang en ’n plek in ’n nasionale o.17-span te verower, getuig van buitengewone talent, deursettingsvermoë en sportmanskap. Hierdie prestasie dien ook as inspirasie vir Mieke se mede-leerders. Dit is ook ’n bewys van die gehalte van sportontwikkeling by Hoërskool Hans Strijdom.
Die skoolgemeenskap wens Mieke alle sterkte toe vir haar internasionale deelname. Hulle sien daarna uit om haar prestasies op die wêreldverhoog te volg.
Hoërskool Hans Strijdom is ongelooflik trots op Mieke en hierdie merkwaardige mylpaal in haar sportloopbaan.
Foto verskaf






