"American Dance Awards" - Merensky-dansers kwalifiseer vir kampioenskap
“Special Award” wat dansers ontvang het

“American Dance Awards” – Merensky-dansers kwalifiseer vir kampioenskap


TZANEEN – “American Dance Awards.” Twee talentvolle leerders van Merensky Landbou Akademie het onlangs besondere sukses behaal. Christine Venter en Mieke Honeyball het aan die gesogte “American Dance Awards” (ADA) deelgeneem. Dit het plaasgevind van 24 September tot 3 Oktober 2026 in Centurion. Christine Venter en Mieke Honeyball se uitstekende vertonings het verskeie toekennings ontvang. Dit het ook vir hulle deure oopgemaak vir internasionale deelname in die Verenigde State van Amerika.

“The American Dance Awards” is ’n internasionaal erkende danskompetisie waar deelnemers deur ’n paneel van ervare internasionale beoordelaars geëvalueer word. Die Suid-Afrikaanse kompetisie dien as kwalifiserende rondte vir die “American Dance Awards.” Die “National Championship” sal volgende jaar in Boston, Amerika gehou word.

Christine Venter:

Christine Venter het haar veelsydigheid as danser bewys deur ’n goue medalje in die jazz-solokategorie te verower met ’n puntetelling van tussen 90% en 94,67%. Sy het ook ’n silwer medalje in haar liriese solo ontvang. Christine is met die spesiale toekenning “Told Us the Story – Dancer’s Soul” vereer, wat erkenning gee aan haar vermoë om emosie en storievertelling deur dans oor te dra.

Mieke Honeyball

Sy het eweneens indruk gemaak met sterk vertonings in beide die “contemporary- en open-solo” kategorieë. Sy het in albei afdelings “High Silver“-erkenning ontvang met punte tussen 85% en 89,67%. Haar besonderse verhoogteenwoordigheid en emosionele uitdrukking is verder bekroon met die spesiale toekenning “Brave Performance – Emotional Execution.”

Die hoogtepunt van die kompetisie was egter dat beide Christine en Mieke amptelik gekwalifiseer het om Suid-Afrika in 2027 by die “American Dance Awards National Championship” in Boston, VSA te verteenwoordig.

Merensky Landbou Akademie het hul trots uitgespreek oor die twee leerders se uitsonderlike prestasies. Hul sukses dien nie net as inspirasie vir mede-leerders nie, maar beklemtoon ook die hoë standaard van talent wat by die skool ontwikkel word.

“Die skoolgemeenskap wens beide dansers alle voorspoed toe met hul voorbereiding vir hierdie unieke internasionale geleentheid en sien uit daarna om hul toekomstige prestasies te volg.”

https://www.plasies.co.za/

Foto’s verskaf

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article