Hoërskool Ben Viljoen in Groblersdal vier met groot trots die uitsonderlike prestasie van Marnu Hancke. Marnu is ’n Graad 11-leerder wat in die Suid-Afrikaanse atletiekspan ingesluit is vir die AUSC Region 5 Games wat van 4 tot 13 Desember 2026 in Maputo, Mosambiek plaasvind.
Marnu se insluiting is ’n merkwaardige hoogtepunt in sy sportloopbaan. Dit is ’n bewys van sy harde werk, toewyding en talent in atletiek. Sy keuring volg ná ’n briljante vertoning by die Suid-Afrikaanse Atletiekkampioenskappe. Hy het die goue medalje in die o.18-diskusitem verower het. Hierdie nasionale triomf het die weg gebaan vir sy plek in die nasionale span.
Die skool en die hele Dallergemeenskap is ongelooflik trots op Marnu, wat nie net homself nie, maar ook sy skool en gemeenskap met waardigheid en uitnemendheid verteenwoordig.
Ons wens hom alle sterkte toe met sy voorbereiding en glo dat hy die groen en goud met trots sal dra op die internasionale verhoog.
Foto verskaf






