Noord-Wes – Hoërskool Rustenburg se swemmers het uitstekende prestasies gelewer tydens ’n swemgala in Potchefstroom. Hulle het met vasberadenheid, talent en deursettingsvermoë die Rustie-vlag hoog laat wapper. Die span het verskeie podiumplekke en sterk individuele vertonings aangeteken, wat die skool se trotse swemkultuur verder bevestig.
Onder die uitblinkers was Cara Louw. Sy het drie goue medaljes verower in die 200 m-borsslag, 50 m-borsslag en 200 m-vryslag. Sy het ook sewe verdere podiumplekke behaal, waaronder vyf silwermedaljes en twee bronsmedaljes.
Riandu Basson het ewe indrukwekkend gevaar. Sy het vier eerste plekke in die 100 m-vlinderslag, 50 m-rugslag, 100 m-rugslag en 50 m-vlinderslag behaal. Daarbenewens het hy vier silwermedaljes verower in verskeie items.
Annika Schuch het ’n derde plek in die 200 m-borsslag behaal. Sy het deurgaans sterk meegeding met verskeie top-vyf- en top-ses-posisies in haar items. Roelien Snyman het op haar beurt konsekwente vertonings gelewer en verskeie top-10-plekke behaal.
Die uitslae getuig van die harde werk, dissipline en toewyding wat die Rustie-swemmers daagliks uitleef. Hul prestasies is ’n weerspieëling van die hoë standaarde waarna Hoërskool Rustenburg voortdurend streef, beide in en buite die swembad.
Hoërskool Rustenburg wens al die deelnemers hartlik geluk met hul uitsonderlike prestasies. Julle dra die Rustie-naam met trots en waardigheid en dien as inspirasie vir mede-atlete en die breër skoolgemeenskap.
Hou aan om golwe te maak, Rusties!
Foto verskaf






