Wenners in die Skilder met Woorde kompetisie is aangekondig.
Wenners in die Skilder met Woorde kompetisie is aangekondig.

Jong kunstenaars skilder hul pad na sukses


HOPEFIELD – ‘n Liefde vir Afrikaanse musiek en kuns het vir Eva Daniels, ’n gr.10 leerder aan die Hoërskool Hopefield ’n eerste plek in die 2026 Skilder met Woorde-kompetisie besorg.

Die kompetisie het leerders die geleentheid gebied om hul kreatiwiteit en talent op ’n unieke manier uit te leef deur Afrikaanse musiek en visuele kuns te kombineer.

In samewerking met die kunstenaar Elsie Jooste het die kompetisie leerders uitgedaag om een van 15 Afrikaanse liedjies te kies en dit in ’n kunswerk uit te beeld.

Die liedjies het bekende name ingesluit soos Anton Goosen, Laurika Rauch en Karen Zoid.Daniels het “Sonvanger” deur Valiant Swart as inspirasie vir haar kunswerk gekies.

“Ek het ‘Sonvanger’ gekies omdat ek geweet het die sonstrale sou ’n groot visuele impak skep. Die lig en skaduwees bied sterk kontras, wat die kunswerk meer dramaties en betekenisvol maak,” vertel sy.

Die kunstenaar Elsie Jooste, Eva Daniels (wenner) en die skoolhoof Jacques Rossouw.

Haar skildery beeld ’n jong meisie uit wat haar gesig na die son en lig draai. Daniels verduidelik dat die meisie soos ’n blom wat voortdurend na die son groei, hoop en die vermoë om lig te soek te midde van donker tye simboliseer. “Ongeag die uitdagings wat ons in die lewe ervaar, kan ons altyd ons fokus op die ‘lig’ en die moontlikheid van beter dae hou,” sê sy.

Die warm kleure en ligval versterk volgens haar die tema van hoop en innerlike krag wat by die boodskap van die lied aansluit.

Daniels deel dat sy aanvanklik nie geweet het vir watter kompetisie die kennisgewing was nie, aangesien sy vanjaar aan verskeie kunskompetisies deelgeneem het.

“Toe ek op die internet gaan oplees en besef dat ek regtig gewen het, kon ek dit skaars glo. Ek was ongelooflik opgewonde.”

Haar liefde vir kuns het reeds op ’n jong ouderdom begin en tans neem sy visuele kunste as vak by die Lientjie Blok-kunsskool, waar haar passie vir kuns steeds groei en ontwikkel.

Vir Daniels is die oorwinning deur die Here se genade en sy gee Hom die erkenning vir haar selfvertroue as jong kunstenaar.

“Dit gee vir my die vertroue om aan te hou skep en my kreatiewe vermoëns verder te ontwikkel. Ek hoop dit sal ook vir my deure oopmaak vir toekomstige uitstallings,” voeg sy by.


Ander wenners
Daniels was nie die enigste jong kunstenaar wat met haar talent uitgeblink het nie.

In die hoërskoolafdeling het Mia Vorster (graad 12, tuisskool) die tweede plek behaal met ‘n kunswerk wat ook deur “Sonvanger” geïnspireer is.

Jana Vorster (graad 11, tuisskool) het die derde plek behaal met haar kunswerk, geïnspireer deur “Vier Seisoene Kind”.

In die laerskoolafdeling het Luzaan van der Westhuizen van Laerskool Jeffreysbaai met haar kunswerk, geïnspireer deur “Namibsroos”, met die eerste plek weggestap.

Luzaan van der Westhuizen van Laerskool Jeffreysbaai met haar kunswerk, geïnspireer deur “Namibsroos”.

Elané Leach van Laerskool George-Suid het die tweede plek behaal met ‘n kunswerk geïnspireer deur “Skepe”, terwyl Aarya Naidoo (graad 7) van St Mary’s DSG Kloof die derde plek verower het, ook met ‘n kunswerk geïnspireer deur “Skepe”.

Die kompetisie beklemtoon die kreatiwiteit van jong kunstenaars en bied aan hulle ‘n geleentheid om Afrikaanse musiek op ‘n vars en persoonlike manier deur visuele kuns te vertolk.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article