CENTURION. Centurion Kunstefees. Laerskool Wierdapark se talentvolle leerders het onlangs hul merk gemaak tydens die Centurion Kunstefees. Die skool se Blinkoog-Wieries het met selfvertroue, kreatiwiteit en passie deelgeneem. Hulle uitstekende prestasies het met verskeie gesogte toekennings en trofeë gepaard gegaan.

Onder die uitblinkers was Naudè Coetzee, wat as algehele wenner in die afdeling Poësie vir seuns in gr. 5 en 6 aangewys is. Ruaan Ras het indrukwekkende werk in die kategorie Fotografie vir gr. 4 tot 7 gelewer en die toekenning vir Beeldende Kuns ontvang.

Karlien Jacobs het ook haar artistieke talent ten toon gestel. Sy is bekroon as wenner van Beste Beeldende Kuns vir Illustratiewe Tekening (Monotoon) in die gr. 4 tot 7-afdeling.

Marinel Coetzee was een van die fees se grootste sterre. Sy is as algehele wenner in Mimiek vir laerskole aangewys. Daarby het sy ook die algehele titel in Gedramatiseerde Prosa vir laerskole verower. Haar indrukwekkende vertolkings is verder bekroon met die titel as algehele wenner in Poësie vir gr. 7-meisies.

Nog twee jong woordkunstenaars het hul afdelings oorheers. Wenè Coetzee is as algehele wenner van Poësie vir meisies in gr. 1 en 2 aangewys. Adriaan Coetzee het dieselfde prestasie in die seunsafdeling vir gr. 1 en 2 behaal.

Hierdie uitslae getuig van die hoë standaard van kultuur en kunste by Laerskool Wierdapark. Dit bewys ook dat die skool se leerders nie net op akademiese en sportgebied uitblink nie, maar ook op die verhoog en in die kunswêreld.

Die skoolgemeenskap is besonder trots op die jong kunstenaars wat die Wierie-naam met trots uitgedra het. Met soveel talent in die geledere lyk die toekoms vir die Blinkoog-Wieries besonder blink.

https:/laerskoolwierdapark.co.za/

Foto’s verskaf

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article