KIMBERLEY – Tydens die afgelope naweek se kragmeting tussen die Hoërskool Diamantveld en die Bethlehem Voortrekker Hoërskool (BVHS) in Kimberley het die rugbyspanne van Diamantveld oorheers, terwyl die besoekers van die Vrystaat die oorhand op die hokkieveld gehad het.

Dié kragmetings tussen rugby-, netbal- en hokkiespanne was deel van vanjaar se Wesgrow Sentrale Skole Sportreeks en goeie kompetisie en sportmanskap op en van die veld was ‘n kenmerk van die byeenkoms.
Diamantveld se eersterugbyspan het BVHS met 59-20 verslaan. Vir die Diamantvelders was dit ‘n soete oorwinning ná hul naelskraapse nederlaag van 40-41 verlede naweek teen die Hoërskool Trio van Kroonstad.
LEES OOK: Wesgrow Sentrale Skole Sportreeks | Diamantveld en Trio laat skare juig
Al Diamantveld se rugbyspanne, behalwe die o.14B- en o.14C’s, het as wenners van die veld gestap.

Op die seunshokkiefront het BVHS se eerstehokkiespan met 3-1 gewen, en die meisies met 8-0. Slegs die o.16A-seunshokkiespan van Diamantveld het gewen (2-0), terwyl die ander Noord-Kapenaars op die nuwe astrohokkiebaan rondgejaag is en met tellings soos 1-6 en 0-9 die aftog moes blaas.
Hoewel BVHS se eerste netbalspan met ‘n telling van 34-20 hul doel bereik het, het Diamantveld se ander netbalspanne uitstekend gevaar om die meeste van die netbalwedstryde te wen.
- Diamantveld se volgende kragmeting in die Wesgrow-reeks is op 1 Mei teen die Hoërskool Sentraal in Bloemfontein, terwyl BVHS en Trio mekaar op dié dag beetkry.







You must be logged in to post a comment.