Die Noord-Kaapse provinsiale regering bevind hom te midde van ‘n groeiende politieke en administratiewe krisis ná nuwe proklamasies deur pres. Cyril Ramaphosa wat die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) magtig om grootskaalse waarskynlike wanbestuur in die provinsie te ondersoek in twee Noord-Kaapse staatsdepartemente.
Die ondersoeke fokus op die Noord-Kaapse departement van onderwys, asook die departement van paaie en openbare werke. Volgens die SOE is die doel om geldelike verliese wat die staat gely het te verhaal.
Die SOE soek na bewyse van kriminele gedrag wat ook na die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) verwys kan word. Die eenheid is gemagtig om siviele stappe in die hooggeregshof of ‘n spesiale tribunaal in te stel.
Ongeldige eise, verkryging onder die soeklig
Die SOE se ondersoek by die departement van paaie en openbare werke (proklamasie 333 van 2026) handel oor rehabilitasie van die MR938-pad tussen Hotazel en Kathu. Dit volg op die Ouditeur-Generaal (OG) se vroeëre bevinding dat daar ‘n verlies van R38 miljoen was weens ongeldige eise op dié padprojek. Die SOE se mandaat dek die tydperk van 8 Desember 2017 tot 7 Augustus 2026.
By die departement van onderwys ondersoek die SOE die verkryging van goedere en dienste vir die nuwe Hoërskool Kuruman-projek in Wrenchville om te bepaal of die prosesse regverdig, deursigtig en kostedoeltreffend was. Onreëlmatige uitgawes of onbehoorlike gedrag deur amptenare of diensverskaffers tussen Desember 2016 en Augustus 2026 sal ondersoek word.
Die aankondiging volg op die onlangse bedanking van Fufe Makatong, Noord-Kaapse LUR vir paaie en openbare werke.
LEES OOK: Makatong bedank as Noord-Kaapse LUR vir paaie en openbare werke
Hoewel haar departement van paaie en openbare werke vir die 2024-’25-boekjaar ‘n ongekwalifiseerde oudit met bevindings ontvang het, ‘n verbetering op die vorige jaar, skets die Ouditeur-Generaal (OG) se verslag ‘n prentjie van ernstige finansiële en administratiewe uitdagings.
Verskeie redes tot ernstige kommer oopgevlek
Die departement had krediteure van meer as R1,1 miljard wat nie binne die vereiste 30-dae-betalingstermyn betaal is nie.
Die OG het verskeie kwessies geïdentifiseer. Dit sluit in die R38 miljoen verlies weens ongeldige eise op die MR938-padprojek (Mmamatwan-pad) tussen Kathu en Hotazel. Daar was ‘n verlies van R10,8 miljoen weens oorbetalings vir werk wat nie gelewer is nie.
Daarbenewens het R8,7 miljoen verlore gegaan weens swak vakmanskap en ‘n gebrek aan toesig by die psigiatriese hospitaal in Kimberley.
Effektiewe stappe is nie gedoen om onreëlmatige uitgawes te voorkom nie.
Kontrakte is toegeken sonder drie kwotasies, tenderkomitees is verkeerd saamgestel en kontrakte is aan bieërs gegee wat nie die hoogste punte behaal het nie.
Die OG het bevind die rekenpligtige beampte het nie sy oorsigrol nagekom om behoorlike interne kontroles te verseker nie, wat gelei het tot herhaalde foute in die finansiële state en ‘n agteruitgang in wetlike nakoming.





