NOORD-KAAP – Reënbuie en donderstorms het Vrydagaand en Saterdag wydverspreid oor groot dele van die Kaapprovinsies voorgekom, plek-plek met hael, rukwinde en geïsoleerde swaar reënbuie. Volgens voorspelling het dit tot gelokaliseerde oorstromings van kwesbare roetes, laagliggende gebiede en brûe gelei, asook tot gelokaliseerde skade aan nedersettings en infrastruktuur.
In die Noord-Kaap het die provinsiale departement van paaie en openbare werke op Saterdagaand padveiligheidswaarskuwings vir groot dele van die Namakwa-distrik uitgereik. Die departement waarsku alle padgebruikers dat gruispaaie oor die Namakwa-distrik – insluitend munisipale paaie in Richtersveld en Khai-Ma – nat en glad is ná die onlangse reënval en raai padgebruikers aan om waar moontlik die nat paaie te vermy. Dit word ook aangeraai om die begaanbaarheid van roetes te bevestig voordat dit aangedurf word.

Paaie wat ná Saterdag se reën deur die departement as hoërisiko paaie aangedui is, is die volgende:
- Witpad na Kleinzee (MR745)
- Port Nolloth na Kleinzee (MR746)
- Kleinzee na Rooipad en Groenriviermond (DR2964)
- Brandvlei na Loeriesfontein (DR2976–DR2972)
- Roodewerf (DR2267)
- Calvinia na Clanwilliam Road (MR542)
- Paaie in die Richtersveld en Khai-Ma Munisipale gebied

Pad tussen Kamasies en Rooifontein
Die departement waarsku padgebruikers dat die DR2951 tussen Kamasies en Rooifontein tans weens kitsvloede ontoeganklik is. ‘n Sterk, vinnigvloeiende rivier het die pad oorstroom, wat daartoe lei dat die gemeenskap tydelik van toegang tot noodsaaklike dienste afgesny is.
‘n Waarskuwing is uitgereik om nie die oorstroomde pad of rivier oor te steek nie. Kitsvloedtoestande kan vinnig verander en is uiters gevaarlik. Selfs al lyk dit of die watervlak daal, kan die stroom steeds sterk wees, sê die departement in ‘n verklaring. ‘n Alternatiewe roete sal amptelik bekend gemaak word sodra ‘n tegniese assessering voltooi en ‘n veilige roete bevestig is.
Na verwagting kan watervlakke binne ongeveer twee dae daal, indien weer- en riviertoestande dit toelaat.


Groenriviermond
Voorts word padgebruikers aangeraai om die Groenriviermond-pad te vermy, veral die gedeelte ongeveer 5 km voor Groendorp, wat erg verspoel het.
Die pad van Groenrivier deur Kotzésrus en Garies tot by Groenriviermond is oorstroom, modderig en uiters glad. Groot hoeveelhede water en gevaarlike toestande maak reis riskant, en die pad kan slaggate, weggespoelde gedeeltes en ander skade verberg.
Padgebruikers word versoek om nie oorstroomde paaie of paaie met vinnigvloeiende water oor te steek nie. Indien reis onvermydelik is, verminder spoed, handhaaf ‘n veilige volgafstand en wees uiters versigtig.
‘n Groot hoeveelheid water het ook op die pad tussen Rooiwal en Vioolsdrift opgedam.

Facebook-plasings
“Riviere loop ook sterk in Williston se area, hier het so 50mm geval. Beplan ASB grondpad roetes met omsigtigheid. Bly veilig.” – Reda Hanekom. Hanekom skryf ook: “Die grondpaaie en driwwe in Karoo is onvoorspelbaar met donderweer. Die Fortuner (foto’s) gister voor Loxton in die rivier. Dis op die Fraserburg Loxton pad. Moet asb nie in onbekende driwwe, riviere en leegtes inry nie.”
“Pad tussen Sutherland en Merweville is tans onbegaanbaar weens die rivier by Portugalsrivier.” – Margaret du Plessis Blom.









You must be logged in to post a comment.